Twee sonderlinge mense, Leandré en Michelle Brettschneider, het onlangs hul vlerke gesprei en The Local Collective (TLC) oorgeneem. Foto:VERSKAF


TWEE sonderlinge mense het onlangs hul vlerke gesprei en The Local Collective (TLC) oorgeneem.

Dié onderneming is gegrond op die gedagte dat mens plaaslik moet koop en ondersteun en eiegoed uitbrei om mekaar te help.

Met sy sagte hart het Leandré Brettschneider, eienaar van Pennyworth Design, die dryfkrag om sy gemeenskap met kennis, woord en daad op elke gebied te onderskraag.

Sy korporatiewe agtergrond in kommunikasie en reklame maak hom ’n aanwins, maar ’n aardse lewenstyl in die kalmte van Jeffreysbaai het sy omgeehart en standvastige karakter na vore gebring.

Hy stel hom ten doel om geleenthede te ontgin sodat sy omiddellike omgewing kan groei en daagliks vooruitgaan.

TLC is nommerpas vir hom en mede-eienaar Michelle Mathews. Gebore en getoë in die Noordwes, is sy die spreekwoordelike “dinamiet in ’n klein pakkie”.

Michelle se liefde vir die see, mense, puik kos en kunste maak haar ’n trotse inwoner hier. Die pad vanaf die onderwys, na kunstenaar en koskenner, het haar na die Lion and Grace Design gelei. Sy bedryf ook Bakoond waar sy geurige gebak optower.

Michelle glo daar is altyd ’n plekkie vir almal by die tafel ongeag vanwaar hulle kom of wat ook al hulle aangevang het.

’n Leser op sosiale media merk op dat die ontstaaneienaars van TLC, Thomas en Chrizelle Coleman ’n waardevolle saad geplant het. “Ek weet dat Michelle en Leandré dit sal koester sodat dit selfs meer vrug afwerp.”

Vir die Colemans was dit ’n lewenslange droom wat realiseer het, om die eenvoudige konsep te laat ontwaak om produkte van boere, skeppers, kokke, seepmakers, heuningboere uit die omgewings aan die gemeenskap te verskaf.

Hulle beweeg aan, en gee die groeiende konsep oor aan die nuwe span wat die groei en oorlewing van die omgewing en die gemeenskap onderskraag.

Skakel Leandré of Michelle by 076 558 3568.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article