DIE verdagte wat skuldig gepleit het op die moord op Keenan Sauls (27) op Humansdorp, Revino Williams, is verlede week in die Humansdorpse streekshof tot 15 jaar efektiewe tronkstraf gevonnis vir die moord.

Wyle Keenan Sauls. Foto: VERSKAF

Die tragiese verhaal het sowat drie jaar gelede begin toe drie boesemvriende se lewens onherroeplik verander het na die moord op een van hulle.

Miguel Sauls (toe 26), Jourin Jacobs (toe 23) en Keanan Sauls (toe 27) het op Sondag, 24 Februarie 2019, vanaf die Vaaldam woonbuurt op Humansdorp in die vroeë oggendure huiswaarts gestap, toe hulle deur twee mans, Unathi Moshaba (toe 24) en Revino Williams (toe 18), met skerp voorwerpe voorgekeer was. Die voorval het naby die All Black rugbyveld gebeur.

Daar het ’n hewige struweling ontstaan waarin die vriende verbete geveg het teen die mans.

Hul kon egter toe daarin slaag om weg te kom en het in die rigting van Arcadia gehardloop. Hulle het eers in Slingerstraat ontdek dat Keenan raakgesteek was toe hy inmekaar gesak het.

Die polisie het die verdagtes gearesteer en hulle was sedert hul inhegte-nisneming verhoorafwagtend in die St Albans gevangenis.

Op 19 April vanjaar is Moshaba egter onskuldig bevind op die klagtes nadat Williams erken het dat hy verantwoordelik was vir die misdryf.

Op 6 Mei in die streekshof is Williams soos volg gestraf; 10 jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir die moord. Die klagtes sal samelopend wees, dus sal hy effektief 15 jaar agter tralies wees.

Die hof het in ag geneem dat hy 18 jaar oud was toe die moord gepleeg is, asook sy persoonlike omstandighede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article