Die vier elemente van die labirint.

Foto: Verskaf

Duiwe word vrygelaat, koorsang, tjello- en fluit-opvoering, piekniek en ’n besondere labirint maak deel uit van ’n unieke feesviering op Jeffreysbaai.

Die span van Dorp van Drome nooi die hele gemeenskap uit om as ’n eenheid die inwyding van die labirint op die hoek van Noorsekloofweg en Dogwoodweg te geniet. Bring jou eie piekniekmandjie en ’n stoel of kombers.

Organiseerder en beplanner Soria Swart sê mense kan hulle van 15:00 af tuismaak in die park, en die program sal om 15:30 begin.

“Ons wil graag hê die dorp se mense moet as ’n eenheid die lewe kom vier, asook die voltooiing van die uitmuntende projek. Ons wil al die sintuie betrek en dit ’n onvergeetlike ervaring maak,” sê Swart.

Die koor van Woodridge College sal optree asook ’n ensemble. Pieter Kok is ’n internasionaal bekende landskapsargitek wat verantwoordelik is vir die uitleg van die labirint. Hy sal meer vertel oor die simboliek en geskiedenis daarvan, en wat die uitleg geverg het.

Daarna sal die tjello- en fluit-opvoering volg, en meer as 200 duiwe sal dan vrygelaat word.

Hierna kan almal die spekboom labirint van sowat 880m stap, wat sowat ’n kwartier neem om te stap tot by die middelpunt. ’n Labirint verskil van ’n doolhof deurdat dit net een ingang en uitgang het en ’n mens kan dus nie verdwaal nie.

Dit is die jongste toeriste-aantreklikheid in Jeffreysbaai wat deur die Dorp van Drome aangepak is in samewerking met die Kouga Munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article