Maryna Joubert in Kunsplek, haar kunsateljee en -galery in Jeffreysbaai.

Foto: Verskaf

Staan tru branderplankryers, die kunste eis ook ’n regmatige plekkie tydens Jeffreysbaai se jaarlikse Winterfees wat eersdaags in dié pragtige kusdorp aangebied sal word.

Maryna Joubert, ’n gebore Vrystater, ’n lank-gewortelde Pretorianer en eindelik nou ook ’n Oos-Kapenaar, bied saam met twee mede-kunstenaars, Marina Wilbraham en Cryselda Venter, vir die eerste keer ’n groep-kuns-uitstalling, Re Work 2022, in haar bykans splinternuwe ateljee aan.

Maryna en haar man Etienne, het in 2021 in Jeffreysbaai gaan aftree waar sy haar nou na hartelus as kunstenaar kan uitleef.

“Ek het lank voordat ek post-modernisme ontdek het geweet dat daar iets anders in my kop is as bloot net ’n logiese toekomsgerigtheid,” verduidelik Maryna.

“Die roetine van skool en koshuis was vergete wanneer ek naweke op die plaas was en sonder enige inhibisies kon droom.”

“Die veld, bome, klippe en spruit was my inspirasie om met ’n potlood agter- of in die kantlyn van my skoolboeke te teken.”

“Na skool het ek ’n diplomakursus in verpleegkunde by Kovsies in Bloemfontein gedoen en my praktiese opleiding by die Nasionale- en Oranje Hospitale in dié stad.”

“Ek het eers 11 jaar na matriek weer kuns beoefen toe ek met pottebakkersklasse begin het.”

“Dit het gelei tot ’n deeltydse pos in pottebakkery by die Centurion Tegniese Kollege en die bedryf van ’n klein pottebakkers-winkel in Pretoria.”

“Later het ek deeltyds kunsvakke by Unisa se skool vir Beeldende- en visuele kunste begin neem alhoewel ek in daardie stadium nie van plan was om die hele kursus te voltooi nie!”

“My man, ’n kliniese sielkundige, het egter van beter geweet en gesê die studies is goed vir my en in elk geval heelwat goedkoper as Prozac!”

“Ten spyte van ’n besige lewe tussen kinders grootmaak, nagdiens as verpleegster, klasgee by die kollege en die bedryf en maak van kunswerke vir ons pottebakkerswinkel, het ek ten einde my BA-graad in Beeldende Kuns, nogal met drie onderskeidings voltooi.”

“In 2009 het ek begin om my man se regsmediese praktyk voltyds te bestuur en gedurende die tyd het ons reeds ons tyd in Pretoria en Jeffreysbaai in twee-week siklusse spandeer.”

“Ons het dit as die ideale tyd gesien om aanvanklik eers die praktyk se werksaamhede af te skaal, totdat ons dit in 2021 gesluit het om permanent in Jeffreysbaai te kom aftree.”

Haar man het vir haar die huis langs die een waarin hulle in Jeffreysbaai woon as ’n kunsateljee gekoop, waar sy nou dit as ’n kunsgalery inspan, kunsklasse aanbied en haar eie kuns kan beoefen.

“Ek sal myself as ’n kontemporêre kunstenaar beskryf wat in gemengde media spesialiseer,” sê sy.

“My voorkeur deesdae is om konseptuele werke met uitge-spoelde plastiek of polymer te maak.”

“Ek stap graag op die strand en tel dan uitgespoelde plastiek, vislyn of nurdles (klein stukkies plastiek wat baie skadelik vir die mens en die natuur is) op wat ek dan in my kunswerke gebruik.”

“Die Kunsplek is verlede Desember met vonkelwyn en Krismiskoek geopen.”

“Behalwe my een dogter wat onlangs met waterverf begin skilder het, het ons ander drie kinders nie juis ’n belangstelling in kuns getoon nie.”

“Maar my ses kleinkinders – dis ’n ander storie. My ateljee is vir hulle hemel op aarde, want daar mag hulle op enigiets en na hartelus verf!”

“Daar is werklik uitstekende kunstenaars wat in Jeffreysbaai woon en werk en behalwe dat dit goeie kompetisie ondermekaar bied, is dit ook ’n kunsparadys vir enige kunsliefhebber om te besoek. So, jy hoef nie net te kan branderry om tydens die Winterfees hier te kom kuier nie!”

Die uitstalling Re Work 2022 kan van 9 Julie tot 22 Julie By Die Kunsplek in Ebonystraat 3, Wavecrest in Jeffreysbaai besigtig word. Die Jeffreysbaai se Winterfees vind van 12 tot 22 Julie plaas.

  • Bel Maryna Joubert by 083 381 6595 vir inligting oor die slypskole en kunsklasse wat sy aanbied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article