Die paspoort vir Kunskoors. Foto: VERSKAF


JY hoef nie ’n tas te pak nie, en ook nie ver te reis nie. Maar dis aan te bevole dat jy ’n paspoort vir Kunskoors kry – die uithaler kunsfees wat vanjaar van 1 tot 3 Mei op Jeffreysbaai gehou word.

“Met dié ‘paspoort’ kan jy met een oogopslag die program sien, asook die kaart van die plekke waar die produksies plaasvind, asook die restaurante. Maar nog meer…. Net soos met die Camino in Spanje, kan jy by elke produksie of uitstalling wat jy bywoon, ’n stempel kry.

As jy agt of meer stempels kry, kan jy gratis die ‘Encore-partytjie’ aan die einde van die fees (ná die vertoning van Nataniël) by BruCo bywoon waar daar kunstenaars sal optree,” sê die feesdirekteur Soria Swart. Diegene wat nie genoeg stempels kry nie, kan ’n toegangsfooi betaal.

“Ons het reeds ’n paar restaurante wat ’n soort ‘pelgrimsete’ tydens Kunskoors sal aanbied teen ’n billike prys. Jy kan dus by BruCo, Infood, Walskipper en Viswijf hiervan gebruik maak. Ons hoop om nog eetplekke te betrek. Die restaurant sal ook ’n stempel op jou paspoort aanbring,” verduidelik Swart.

Op die ‘paspoort’ is ook die roete van die Kunskronkel. Feesgangers kan by die parkeerterrein by die Spur ’n Kunskoets haal om agt kuns ateljees te besoek.

“Ons wil graag die dorp se mense gelukkig maak deur die vermaak wat aangebied word, vir langer as die duur van die fees. Ons wil graag die kleinbesighede bevoordeel en volhoubaarheid bevorder,”het Swart bygevoeg.

Die ‘paspoorte’ is beskikbaar by die venues, en ook by Soria Swart by 082 684 4350. Vir meer besonderhede oor Kunskoors, besoek die webblad www.kunskoors.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Quicket, Seashells en by Soria Swart.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article