: Kouga Mayor Horatio Hendricks and his wife, Amor, arrive at the Opening of the Council last week Thursday. Photo: SUPPLIED


DIE Kouga-munisipaliteit, wat deurloop onder een van die ergste droogtes in die geskiedenis, wil sy afhanklikheid verminder van die twee hoofopgaardamme wat die streek van water voorsien.

Dit is die Churchill- en die Impofu-dam, wat deur die departement van Waterwese en Sanitasie besit word. Dié damme verskaf ook water aan die Nelson Mandelabaai-metro en omliggende munisipaliteite.

Horatio Hendricks, Kouga-burgemeester, het verlede Donderdag op sy eerste munisipale rede op Jeffreysbaai gesê die damme word nie bestuur met die beste belange van Kouga se inwoners in gedagte nie.

Hy sê Kouga het talle ondergrondse fonteine, wat aan die munisipaliteit die geleentheid bied om drinkwater van alternatiewe bronne te bekom.

“Ons fokus die afgelope 14 maande was om nuwe boorgate te ontwikkel ten einde watervoorsiening aan ons dorpe te verhoog.

“Die munisipaliteit het aanvanklik sy eie geld gebruik om boorgate by Oesterbaai, Hankey, Patensie en Jeffreysbaai te sink. Agtien van die boorgate het water opgelewer, maar dit was nie altyd van die regte gehalte nie.”

Hendricks sê die program het in Oktober, verlede jaar ’n welkome hupstoot gekry toe die nasionale tesourie R151 miljoen aan die munisipaliteit gegee het vir droogteverligting.

Hy sê dit was ’n trotse oomblik vir die munisipaliteit, omdat aansoeke selde ten volle gedek word.

“Dit spreek boekdele van ons werknemers en hul toegewyding om ’n einde te bring aan Kouga se waterkrisis.”

Die eerste R58,7 miljoen kom van die provinsiale rampbestuurfonds. Dit gaan die munisipaliteit help om water aan die 23 868 huishoudings te verskaf.

’n Gedeelte van die geld word ook gebruik om die munisipaliteit se boorgat-projek op Hankey, Patensie, Jeffreysbaai, Humansdorp en Oesterbaai te versnel.

Dit gaan die munisipaliteit in staat stel om ekstra boorgate te sink, om die verkryging en die behandeling van water vanaf die Kleinrivier op Hankey te verbeter, en om die fonteine by Rebelsrus en Mostertshoek, in die St. Francis-omgewing, te ontwikkel.

Die tweede bedrag van R92,5 miljoen is verkry deur die infrastruktuurtoekenning vir waterdienste. Meer as 12 600 huishoudings gaan hierby baat vind.

Van dié bedrag gaan R35 miljoen gebruik word om die Jeffreysbaai-watersuiwerings-aanleg op te gradeer.

Hiervan gaan R20 miljoen aangewend word om die natuurlike waterbronne by Humansdorp op te knap, en R27 miljoen vir die munisipaliteit se War on Leaks-program.

Die werk sluit in die vervanging van ou pype op Hankey, Patensie en Oesterbaai, en die herstel van waterlekke by huise in histories- agtergeblewe gebiede.

Die munisipaliteit het dit maklik gemaak vir inwoners om gebarste pype en foutiewe watermeters by hul oproepsentrum aan te meld en by wyse van sy Link-app.

As gevolg daarvan kon die munisipaliteit van Julie 2018 tot Januarie vanjaar 2 694 waterverwante klagtes oplos.

Hankey en Patensie in die Gamtoosvallei word die ergste geraak deur die droogte. Dié dorpe het verlede jaar ’n kritieke watertekort ondervind toe die watervlak van die Kouga-dam tot 7% gedaal het.

Ondanks goeie reënval is die dam tans steeds net 48,15% vol.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article