KOUGA het ‘n nuwe waterkampioen – ‘n groot blou druppel wat binne net ‘n paar weke binne oud en jonk se harte gekruip het.
Die oulike druppel is amptelik “Splash” gedoop by die KIA Makietie Jeffreysbaai.
Splash het haar eerste publieke verskyning in Stofwolk gemaak toe ‘n organisasie van Johannesburg, Ashraful Uloom, 25 000 liters water vir die gemeenskap kom uitdeel het.
Dit was die derde groot waterskenking vir Hankey en Patensie, met die Waterkrygers en Dischem Kaapstad wat ook die dorpe met duisende bottels water gesëen het.
Volgens Burgemeester Horatio Hendricks, het die munisipaliteit onlangs verskeie veldtogte geloods, insluitende besoeke aan skole en winkelsentrums, ten einde die “spaar water” boodskap uit te dra.
Splash was ook by die munisipaliteit se stalletjie by die onlangse Dorp van die Jaar Makietie, waar die kleinspan kon inkleur en meer leer van waterbesparing.
Die munisipaliteit het ook ‘n span aangestel wat van huis na huis op Hankey en Patensie gegaan het. Die doel van die uitreiking was om waterlekke by huise te identifiseer en inwoners te wys hoe ‘n mens water kan bespaar.



