ASTONBAAI – Sy is fyntjies gebou, baie kunstig, lief vir watersport, maar kan ook ‘n barshou met ‘n jaggeweer skiet.
Kouga Kollig kuier vandeesweek by ‘n wildsboer, Thelma Pretorius-du Toit, van Astonbaai.
Die gebore Bloemfonteiner se ouers was “Sterk Gert” en Tissie Pretorius.
Thelma was die oudste van hul vier kinders. Sy was 16 jaar ouer as hul laatlamboetie, wat tydens Covid oorlede is.
Na haar laerskoolopleiding op Bultfontein, is sy na Oranje Meisieskool as koshuisganger.
Sy het Kuns as ‘n ekstra vak op skool geneem. Iets waaroor sy baie dankbaar is.
Thelma is na skool na die Hugenote Kollege op Wellington en het daarna verder by die Universiteit van Stellenbosch geswot.
Sy is ses maande later met ‘n Vrystaatse boer, Bart du Toit getroud. Vier kinders is uit hul huwelik gebore. Bart was ‘n kommersiële boer nes haar pa, en het met mielies, koring, sonneblomme, skaap en bees geboer.
Thelma het ook haar eie besigheid op die plaas in die Bloemfonteinse distrik begin. Sy het begin met ‘n enkele baal wol, spinwiele aangekoop en vrouens begin bemagtig en hulle ook borduurwerk geleer. Kort voor lank is hul handewerk op buitelandse markte verkoop terwyl die wol verkoop is aan die SA Wewersgilde.

In 2000 is Bart egter tragies oorlede nadat ‘n bosluis hom gebyt het. Skielik het die verantwoordelikheid van die boerdery op Thelma se skouers gerus.
Sy het die boerderygronde uitverhuur, maar haar belofte aan Bart gestand gedoen deur die wildsboerdery te behou.
“Ek het met ‘n jagterspa grootgeword en ons drie dogters is geleer om te boer en om ook alles vir onsself te kan doen. Bakkie-ry, jag en trekkerbestuur was van kleins-af deel van ons lewens.”
Met die jagplaas se verantwoordelikhede en die groot toename in jagtogte vir buitelanders, het Thelma haar tyd al hoe meer tussen hul Astonbaaise strandhuis en die plaas begin verdeel.
Sy vertel dat daar nogal soms rare insidente tydens jagtogte kan gebeur. So het ‘n ryk Amerikaner met ‘n baie opsigtelike skelpienk jaggeweer op die lughawe aangeland. Nodeloos om te noem dat sy roer soos ‘n seer vinger sou uitstaan!
‘n Ander buitelandse jagter was so gespanne en oorstelp (iets wat wildsplaaseienaars “bokkoors” noem), dat hy Thelma gevra het of sy nie liewer ‘n bok vir hom kan inhardloop en vang nie!
Haar meeste jagters kom van Amerika, Spanje, Portugal, Oostenryk, Duitsland en Nederland.
“Die jagters is almal gek oor vleisdisse. Ek wissel my spyskaart om al die vorms van wildsvleis in te sluit: Kop-en-pote potjie, vars lewer op die kole, jagterspot, wildswors, varkribbetjies, Mystery Kebabs, kampvuur roosterkoek, en as ligte happies ‘Pumba se wraakribbetjies’, Jagters Sushi en oom Sarel se ‘Alles-wat-beweeg pot’.”
Afgesien van haar wildsboerdery, teel Thelma ook met Alabai Russian Shepherd-honde en boer sy ook met mini-Pomeranians.
Op die plaas kuier sy en haar kinders en kleinkinders saam in die buitelug en om die braaivleisvuur. By die ruim Astonbaaise strooidakhuis is die gunsteling kuierplek onder ‘n groot boom of op die stoep waar hulle die vars seelug kan inadem.
“Ek het ook ‘n spesiale hoekie op my dek waar ek graag my stiltetyd hou. En ek stap baie graag. In woude, langs die see en in die veld.”
Thelma het ook ‘n spesiale deernis vir Afrikaans as hartstaal.
“Ons moet almal meer lees en ook ons kinders en kleinkinders aanmoedig om die sielskos van boeke te leer ken.”
“Ek het destyds vir Bart belowe om sy nalatenskap en liefde vir hul plaas voort te dra. Vandag se jeug is dalk bedrewe met tegnologie, maar ons moet ons nageslag meer blootstel aan die natuur, buitelewe en almal moet meer vars lug inkry.”
Thelma leef haar geloof ernstig uit en glo dat die alomteenwoordigheid van die Skepper haar weë bepaal.
Haar lewensmantra is: “Leef in die oomblik en dans op die musiek wat nóú vir jou speel.”
LEES OOK: KOUGA KOLLIG | Skrywer weef werklikheid en fiksie saam in reisverhale






You must be logged in to post a comment.