Ds. Predon Roodt en George van Onselen.
Ds. Predon Roodt en George van Onselen. Foto: Verskaf

KOUGA – “Gebraaide duiwe vlieg niemand in die mond nie,” lui die spreekwoord wat beteken dat niks verniet na jou kant toe kom nie.

En in die Kouga is daar twee duiweboere wat beslis weet hoeveel sweet en tyd ‘n wedrenduifboerdery behels. En vir hul harde werk, is daar ook soms groot pryse op die spel.

Ds. Predon Roodt van Jeffreysbaai en sy vennoot, George van Onselen van Humansdorp, het onlangs ‘n bakkie gewen met hul spogduif se rekordvlug. Ook het dominee Roodt al voorheen met ‘n ander wedvlug, ‘n gawe R150 000 aan prysgeld losgeslaan.

Ds. Predon Roodt (regs op die foto) van Jeffreysbaai saam met sy vennoot, George van Onselen
Ds. Predon Roodt (regs op die foto) van Jeffreysbaai saam met sy vennoot, George van Onselen, van Humansdorp. Ds. Roodt het eers met George se pa, ook George, as wedrenvennoot duiwe gevlieg. Foto: Verskaf

Ek het by dominee Roodt gaan kersopsteek oor hoe ‘n mens ‘n wenduif teel en gereed kry vir lang vlugte.

“Om ‘n wenner te ontwikkel, berus op verskeie faktore naamlik teling, voeding en afrigting.”

Hoe rig ‘n mens ‘n duif af en hoe weet die duiwe waar hul hokke na ‘n lang vlug is? “Op dertig dae word ‘n duif gespeen. Daarna word die duiwe na die Opleidingskool by Boesmansrivier vervoer.”

Vir die eerste 3 tot 4 weke word die duiwe in draadhokke geplaas, om aan hul nuwe omgewing gewoond te raak. In hierdie tyd leer die duiwe om verskillende bakens, strukture en plantegroei te ken. Hierna word die duiwe uit die hokke gehaal en na buite verskuif. Hulle begin hul vlerke sprei en dartel liggies rond.

“Dan volg daar kort vlugte van 30 tot 60 minute in dieselfde omgewing en vorm hulle dikwels spontane sirkels,” aldus ds. Roodt. Die volgende stap is wanneer die duiwe in hokke op ‘n bakkie gelaai word en sowat 5km ver weggeneem en vrygelaat word. Die afstand vergroot binne 7 dae na 10km toename-sessies voordat hulle op 50km terug na hul hokke moet vlieg.

“Op hierdie stadium is dit bloot oefenvlugte. Na die voltooing van drie 100 km vlugte, is die duiwe wedrenfiks.”

Identifikasie geskied via ‘n geringde poot met sy nommer, datum en omgewing op. Aan die ander poot kom die elektroniese ring waarin daar ‘n mikroskyfie is, waarin die duif se data opgevang word.

Die duiwe land op ‘n spesiale landingstrook en gaan dan deur ‘n nou opening waar elke duif geskandeer word en die data op ‘n rekenaarskerm verskyn. Na daardie eerste drie 100 km vlugte, volg daar die 200 tot 350 km vlugte. Die oulike duifie wat vir ds. Predon en George die bakkie losgevlieg het, is in Ixopo in KwaZulu-Natal in ‘n uithouwedren van 525km losgelaat.

‘n Goedkoopsport is dit beslis nie aangesien die registrasiefooi per duif sowat R2 000 beloop. Die fooi word deur allerlei faktore bepaal. Een van die duurste wedrenne is die African Pro-wedren waar inskrywingsgeld R18 000 per duif beloop.

“Van die moeilikste roetes is oor die Transkei, waar die valleie en heuwels die vlugtyd bemoeilik.”

Die grootste gevare vir duiwe is valke, kopwinde (winde van voor), drade en mistige weer. Dit is nie net kragdrade wat gevare vir wedrenduiwe inhou nie, maar ook draadheinings op plase. “Mistige toestande veroorsaak blindheid by die duiwe en dit is wanneer hulle in draadheinings vasvlieg. Boonop maak die mistigheid hul vlerke aan die onderkant nat, wat hul vlugspoed dan belemmer.”

‘n Interessante brokkie is dat die voorste duif altyd baie laag vlieg en sy hoogte varieer om bo-oor versperrende drade te maneuvreer. Die duiwe wat verder in gelid volg, sien nie die drade nie en verloor so hul lewens.

Broeiduiwe en wedrenduiwe se kos wissel. Broeiduiwe word meer proteïene en skulpgruis vir kalsium gevoer. Groeipille en medikasie is ook belangrik. Siektes soos kropkanker, toksidiose en jongduifsiekte kom voor, waarvoor Paramoxi toegedien moet word.

Interessant genoeg is België die bakermat van wedrenduifteling. Dit is dan ook die land se nasionale sport. Die vier Jansen broers was die hoeksteenleggers vir die teel van puik wedrenduiwe. Hul buurland Duitsland, skroom nie om miljoene rande vir ‘n duif van hul bure te betaal nie.

Die wêreldrekord vir ‘n tweejarige Belgiese duif met die naam New Kim, is ‘n enorme R29,2 miljoen! Sy is ‘n broeiduif, wat net teel.

Twee Suid-Afrikaners het self hul sak geskud vir ‘n duif met die naam Golden Prince. Mark Kitchenbrand en Samuel Mbiza het 12 dae lank teen ‘n gedugte Chinese sindikaat gebie en die duif uiteindelik vir R5 miljoen gekoop.

Lara, ‘n wedvlugduif van Gys Louw, hou die SA rekord van R2,2 miljoen. Sy was die wenner van die Blue Jacket wedvlugte met ‘n totale seisoenale afstand van 3 552 km en het ook eerste in die Brown Jacket-wedvlug oor ‘n totale seisoenale wedvlugte van 2 302 km gekom.

Iets baie interessant is dat alle duiwe direk na die wedrenne opgeveil word. Niemand mag dus hul wenduiwe behou nie. Maar die allerbeste staaltjie deur ds. Predon, is die verhaal oor die twee duiweboere wat twee keer na mekaar die voertuie gewen het.

Niemand kon glo dat hul duiwe so vinnig kon vlieg nie. Hulle was twee eerbare mense en het ingestem dat ‘n gehuurde vliegtuig die wedren saam met hul duiwe mag aflê.

“Al die duiwe het goed weggespring en in gelid gevlieg, maar toe merk die vlieënier iets vreemds op. Hy sien ‘n wit spikkel op die dak van ‘n bewegende trein. By nadere ondersoek is dit toe sowaar die vorige jaar se wenners se nuwe duif! Die karnallie het toe sowaar die wedren rus-rus op ‘n trein se dak deurgebring en die wedren met die gemak van net ‘n paar vlerkslae gewen!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article