JEFFREYSBAAI – Sy staan bekend as die vrou wat graag geselskap met feetjies, elwe en wonderwesens hou.
Veronica Drake van Jeffreysbaai omring haarself in haar Towerbos, met ’n magiese omgewing waar bokkies, tarentale en verskeie gevlerktes, interaksie het met ’n sprokieswêreld aan die soom van haar tuin.
Die voormalige onderwyseres het veral ’n sagte hart vir voorskoolse kannetjies van wie die eerstes al volwassenes is. Hul juffrou “Ronica” word veral onthou vir haar meesleurende fantasiekonserte, waar almal ook haar besonderse werk as kunstenaar in die lewensgrootte dekor kon sien. Sy is ook ’n knap pianis wat tydens talle optredes haar talente gedeel het.
Die besonderse kunstenaar se huis getuig van ’n wonderwêreld van ’n kaleidoskoop van kleure! Haar skilderye vorm ’n perfekte afronding vir ’n keurige en kleurvolle Morokkaans/Balinese eklektiese styl.
Dit is egter die Towerbos waar Veronica se skeppende vermoeëns tot ander se vreugde bydra. Dit is hier waar besoekers kan wandel tussen miniatuurkastele, geheime wegkruipplekkies, grotte, plante en sprokieskarakters. En teen skemertyd sluip al wat ’n wonderwese is saam op die slingerpaadjies se voetbeligting.

In die sagte gloor vanuit bome en duskant struike, begin die tafereel saans teen skemer voor ’n mens ontvou. En die bonus is die nuutste toevoeging tot Towerbos, naamlik die Towergrot waar ’n mens kan weglê aan die allerheerlikste versnaperinge en snoepgoedjies.
Veronica is as die oudste kind van Koos en Petro Holloway in Johannesburg gebore. Sy het in 1971 gematrikuleer waarna sy op POK onderwys en musiek gaan swot het. Haar kunssinnigheid lei daartoe dat sy verskeie groot opdragte kry om dekor en agtergrondkuns en klanke by die Oppenheimer Stadion en ander venues te doen.
Nadat die gesin na Swartruggens verhuis het, waar haar pa die laaste burgemeester was, het Veronica ook kunsklasse gegee. Haar eintlike beroep was toe dié van knaphand wat honderde kerse vir die Grava kersfabriek met haar ontwerpe versier het.
In 2000 het sy en haar dogter Carla (later Mej. SA Toerisme) na Piet Retief verhuis. Hier was haar eerste pos as graad R-onnie, heel gepas by Elfieland. Sy word later na die SPO-klas en daarna na die Graad-1 klas promoveer.
As inwonende onnie in die koshuis, kry die eetsaal en studiesaal kort voor lank nuwe baadjies. Onder aanmoediging van haar vriendinne, begin sy egter al hoe meer op haar kuns konsentreer. Een van haar eerste opdragwerke is die skilder van tien werke vir ’n Italiaanse restaurant. Hierna kry haar skilderye ook hangplek in verskeie spreekkamers en woonhuise.
In 2008 verhuis sy en Carla na Jeffreysbaai. Spoedig is die musikale en kunstige juffrou ingetrek by aktiwiteite op die dorp. As een van die eerste lede van Dorp van Drome, het sy meegewerk aan verskeie projekte. Veronica is in 2011 met Derek Drake, ’n gesoute onderwys- en sportman getroud. Hul twee kleinkinders, Inge en Skylar, is hul grootste bron van vreugde.
Die egpaar is ook betrokke by Derek se seun, Norman, se gastehuise se bestuur. Hy werk in Saudi-Arabië. Angelic, sy sus, is ’n sportfanatikus en betrokke by sportorganisasies. Haar sus, Lorraine, en haar man bly nou ook op Jeffreysbaai. Veronica se broer, Jeffrey, ook ’n knap sportman met provinsiale kleure in judo en ’n meganiese ingenieur, het op sy dag tien Comrades-wedlope voltooi.
Carla is sedert 2024 die nuwe eienaar van die Seemeeu Pre-primêr waar haar mamma baie lank plaaslike kindertjies help vorm het. Veronica se twee seuns, Andries en Jaco, woon onderskeidelik op Rustenburg en Jeffreysbaai.
Gelukkig is daar tussen Towerbos, Towergrot en Gastehuisdiens steeds tyd vir gesellige familiekuiers.

LEES OOK: Kouga Kollig | Oud-Humansdorper ontdek kunstalent op 60






You must be logged in to post a comment.