KOUGA KOLLIG | Skrywer weef werklikheid en fiksie saam in reisverhale

Marietjie Beukes
Marietjie Beukes. Foto: Ellen Hancke

JEFFREYSBAAI – “Ek word onsigbaar as ek skryf, dan gaan ek na ‘n plek waar niemand my kan pla nie.”

Om stories met die werklikheid te verweef, is beslis een van Marietjie Beukes van Jeffreysbaai se sterkste eienskappe.

Sy is ‘n reisverhaalskrywer by uitstek. Sy vertel ook dat haar boeke op werklike reise geskoei is, maar dat daar ook ‘n heerlike element van “bygeliegde fiksie” verweef is in haar boeke.

Marietjie Beukes is ‘n gebore Pretorianer en was een van die vier dogters van Hannes en Kowie Scholtz.

En toe sy in graad 12 was, het ‘n laatlamseun almal kom verras. Haar skooldae het in Wonderboom Pretoria begin en geëindig.

Haar geskiedenisonnie, meneer Steyn, het eietydse geskiedenis by haar ingeskerp. Vir die Duitse onderwyser was sy effe skrikkerig, maar musiek was haar lewe!

Omdat Wonderboom se skole nie musiek as vak aangebied het nie, het Marietjie van graad 4 tot graad 12 privaat musieklesse geneem.

Haar rustige musiekjuffrou het haar deur 7 Unisa- praktiese eksamens en 5 teorie-eksamens gelei. Na matriek is sy na die Pretoria Onderwyskollege waar haar hoofvakke Klasmusiek en Wiskunde was. Sy het later ook ‘n B.Mus-graad aan Unisa verwerf.

Marietjie vertel dat sy letterlik soms dag en nag musiek geoefen het. Sy het ook gereeld as orreliste by troues en begrafnisse opgetree.

“Ek was baie betrokke by die Christen Studente Vereniging en ek het baie vroeg al besef dat ek ‘n passie vir Sendingwerk het.”

Tydens haar studentejare ontmoet sy ‘n tokkelok en sy en Piet Beukes trou aan die einde van sy vyfdejaar.

Hulle het aanvanklik in ‘n woonstel in Pretoria gewoon, waar Piet wat ‘n enigste kind was, spesiale vriende in sy boeke gevind het deur besonder baie en wyd te lees.

Die Beukes-egpaar het groot empatie met mense wat deur hul omstandighede rondgegooi was in die lewe. Nadat sy studies voltooi is, het haar man eers beroepe na ‘n paar Bosveldgemeentes aanvaar, voordat hulle na Secunda beroep is.

Kort voor lank het hulle na Johannesburg verhuis, waar ds. Piet ‘n gespesialiseerde pos in die arbeidsbediening aanvaar het.

Intussen het hul twee seuns en ‘n dogter ryker geword. Al drie is baie musikaal en bespeel onderskeidelik trompet, viool en tjello.

Marietjie het aanvanklik Musiek en Wiskunde gegee. Later het sy die dwarsfluit leer bespeel en kort voor lank was sy deel van ‘n Simfonie-orkes en Kamermusiekgroepe.

Die Beukese het na hul aftrede vir ‘n tyd lank die eiendomsmark betree. Baie hard gewerk en toe met hul wêreldreise se deeglike beplanning begin.

“Ons is nie gewone toergroepreisigers nie. Ons lees deeglik op oor die lande wat ons gaan besoek en gesels ook met mense wat reeds daar was. Ons trek ons tekkies aan, pak ons rugsakke en begin elke straatjie en stegie verken en leer graag die inwoners van ‘n nuwe land ken.”

Marietjie vertel dat sy tien jaar gelede besluit het om ‘n aanlyn-skryfkursus te volg. Haar eerste publikasie, Toersprokies 1, is in 2021gepubliseer.

Marietjie Beukes
Marietjie Beukes met vier van haar gepubliseerde boeke. Foto: Ellen Hancke

Die boek dek hul reise na Griekeland, Oostenryk en Switserland.

Met die lees van Willie Burger se Reis na die Hart van Menswees het ‘n verskuiwing in die egpaar se ingesteldheid plaasgevind.

“Ek en my man het daarna opnuut na mense en dinge om ons begin kyk. Tydens Covid het ek met mening begin skryf. Na die nuus van die oorlye van ‘n vriendin, het ek gaan sit en ‘n liefdesverhaal geskryf.”

Dit handel oor ‘n Italiaanse egpaar wat met hul wittebrood na die Kruger-Wildtuin reis.

Hulle word deur Covid “vasgevang” en word ingeperk en afgesluit in ‘n eie wêreld waarin hulle die verskillende vlakke van intimiteit beleef.

Die boek Liefdeskoors verskyn in 2023 en speel deels af in die agtergrond van hul reis na Italië en Frankryk. ‘n Verlate plaashuis met regop gesteentes en ‘n leë swaai, skenk geboorte aan ‘n nuwe koers en skryf Marietjie haar eerste spanningsverhaal.

Toersprokies 2 verskyn in 2024. Hier dartel Marietjie se vingers oor die geskiedenis en belewenis van musiek, kuns, cuisine, veral heerlike straatkos. Sy beskryf hul ontmoetings met vreemdes, vergryp hulle aan antieke en nuwe geskiedenis en argitektuur.

“Ons reisbelewenisse is so gepen, dat mense wat nooit kan reis nie, dit deur ons oë beleef.”

Toersprokies 3 is pas uit die oond en het onlangs verskyn en handel oor reise na drie Engelssprekende lande te wete Amerika, Engeland en Skotland.

Weereens bewys Marietjie haar veelsydigheid deur haar vertellings te wissel tussen antieke Etruskiese kuns van 2500 jaar gelede tot by die vier jong manne wat meisies laat swymel het: Die Beatles!

Die reisgenote se ervaring by daardie ou huis in Skotland, word tans deur ds. Piet in Engels vertaal en sal end 2026 beskikbaar wees.

Nou het Marietjie boonop begin om haar hand aan twee nuwe genres te waag: kinderverhale en ‘n femininity-versameling sketse oor vroue se lewenservarings.

Haar liefde vir musiek bly egter ‘n prioriteit wat jare gelede begin het toe sy en haar pa saam na U eie Keuse op die radio geluister het.

“Soms het die radio sein verloor, dan moes ek opspring, dit ‘n vinnige klap gee om weer die suiwer klanke oor die eter te herstel.”

Marietjie het twee gunstelingskrywers, naamlik Deon Meyer en John Grisham. Met laasgenoemde se Street Lawyer wat haar ook toe in die koers van “bloederige leesstof” gelei het.

Audrey Blignaut se essays en ander Afrikaanse skrywers se keurige taalgebruik, is ook vir haar spesiaal.

Haar lewensmotto is: “Kyk sag na jou medemens: Gee hoop, gee om.”

Na hul intrek op Jeffreysbaai, het die Beukes-egpaar goeie vriende gemaak en ook hul voëlkykstokperdjie voortgesit. En dan is Marietjie nog boonop ook ‘n ywerige Moringaboer wat haar eie plante droog, in tabletvorm plaas en self verpak.

In haar rustydjies besoek sy graag koffiewinkels, waar sy op allerlei kopvakansies gaan en nuwe avonture bedink.

Marietjie se jongste boek word op 14 en 21 Maart by die Towerbos Feetjietuin van Veronica Drake bekendgestel. Vir meer inligting kontak Marietjie by 076 733 3488 of Veronica by 071 433 5368.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article