Sy is op Humansdorp gebore. Het haar eerste treetjies in Jeffreysbaai gegee. Sy is ‘n bedrewe poppemeester en haar stem in Sesame Street, word deesdae wêreldwyd gehoor.
Ons Kollig skyn vandeesweek op die begaafde Bethany-Joy Harding-Jiyane. Met so ‘n glimpsie ook op haar man TK, ‘n ewe bedrewe gesig in die vermaaklikheidswêreld.
Bethany-Joy is die jongste spruit van pastoor John Harding en sy vrou René, van Jeffreysbaai. Sy het ‘n ouer broer, Joshua, en ‘n ouer suster Estelle Blaauw.
Haar verhoogoptredes was aanvanklik beperk tot skoolkonserte by die Laerskool Jeffreysbaai. Hier het Charmaine Farr haar sangtalent ontdek en haar in die skoolkoor opgeneem.
“My ander rolmodelle uit my laerskooldae was my gimnastiekafrigter tannie Nokkie en my dansjuffrou Miss Aniela.”
Die sang-en musiektalent loop in oormaat in haar familie waar bykans almal kan sing en verskeie instrumente bespeel.
Haar oupa aan moederskant was niemand anders as die bekende trompetspeler, wyle Johnny Apollis van Nerina Brass-faam, ‘n orkes wat ons steeds gereeld op televisie sien.
Bethany-Joy het tydens haar hoërskooljare aan die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp, reeds ‘n idee gehad dat sy graag in die vermaaklikheidswêreld sou wou wees. Hier was twee onderwyseresse, Althea van den Berg en Juanita Markram vir haar spesiale onnies.
Bethany-Joy se talent vir teater het haar al van jongs af in produksies op die Port Elizabeth Operahuis se verhoog laat beland. Sy het veral gehou van blyspeles en dit sou uiteindelik ook haar toekoms word.
“Ek het as 15-jarige reeds in vakansietye en oor naweke begin werk by die destydse Potters Place Restaurant. Hierna het ek elke vakansie by Rip Curl gewerk totdat ek universiteit toe is.”
Tydens haar vier-jaar Drama – en Teaterstudies aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het sy soms saam met ‘n mede-student Thokozani Jiyane in studenteproduksies beland.
Hierna tree hulle ook saam op by die National Children’s Theatre en kom sy agter dat TK reeds ‘n bedrewe kinderteater akteur is.
Hy het ondermeer in DeeDee & Spike en ander produksies in The People’s Theatre, die Johannesburgse Teater opgetree.
Kort voor lank het Bethany-Joy begin rolle kry in sang-en dansproduksies en sy het permanent vanaf die see na Gauteng getrek.
Toe kom 2017… haar jaar van uitdagings. Sy het vir talle oudisies gegaan en nie ‘n enkele rol gekry nie. Haar tasse was reeds gepak om na haar tuisdorp Jeffreysbaai terug te keer. Met TK al hoe meer in die voorgrond, besluit sy na ‘n vakansie op Jeffreysbaai, om permanent na Gauteng te verhuis.
Op 29 September 2018 trou sy en TK by die Gamtoos Ferry in die Kouga en is dit sommer terselfdertyd ‘n groot familiesaamtrek.


“My herinneringe aan die fliek The Sound of Music uit my kinderjare, het my ook steeds destyds bygebly en ek het besluit om my drome met oortuiging na te jaag.”
En toe kom die deurbraak na verskeie kleinerige rolle in Kinderteater. Haar credo “Just keep rolling with the Punches” en natuurlik haar ouers, familie en TK se ondersteuning het haar binnevlammetjie aan die gang gehou.
Op 26-jarige ouderdom kry sy ‘n kontrak by Takalani Sesame as stemkunstenaar en as poppemeester. Sy klim in die rol van die pers gedroggie Basma vir Takalani Sesame, en word ses jaar gelede ook die internasionale stem van Basma vir Sesame Street International.
Die sesjarige karaktertjie se geliefkoosde uitroep is “Yalla” wat “Let’s Go!” in Arabies beteken.
TK het intussen ook ‘n groot deurbraak gehad as Norman Petty in Buddy Holly by beide ArtsCape and Teatro Monte Casino.
So tussendeur het hulle ook ouers geword van Bonokuhle (4) en Bonga-Joy (2).
Maar onlangs kom daar toe vir beide ‘n enorme deurbraak saam, en kry hulle rolle in Madagascar the Musical, die verhoogproduksie. Bethany-Joy sê dat sy beslis nou in haar gunstelingrol as Gloria die Seekoei speel. En TK is die leeu, Alex.
Vir beide is dit ‘n enorme verligting om uit die smoorwarm kostuums te kan ontsnap na elke vertoning. Soms tot twee keer op een dag!
Bethany-Joy is ‘n diepgelowige en soek die Here op in al hul besluite. Sy geniet gesonde groen tuisgemaakte gladdejantjies (smoothies).
En dan het sy ook ‘n ander interessante sê-ding: “Klein Klippies” en dit beteken dat nietighede en kommer nooit jou vreugde mag steel nie.
Die paartjie droom steeds groot. Bethany-Joy sal baie graag Fiona in Shrek wil speel en TK die rol van Jethro in The Prince of Egypt.
Die huidige speelvak van Madagascar duur tot einde Desember, maar die talentvolle paartjie sien ook uit na ‘n heerlike uitspan op hul gunstelingdorp Jeffreysbaai se strande.





You must be logged in to post a comment.