In wat as ‘n enorme prestasie beskou word is Jefferysbaai en Humandorp tans tien Suid-Afrikaanse junior gewigoptelkampioene ryker.
Dít nadat hulle die vloer gevee het met hul teenstanders by die nasionale kampioenskappe in die Kaap.
Geen ander plattelandse dorpe in Suid-Afrika kan met dié prestasie spog nie. Wat dié streek vermag het, wys dat die sport in die Oos-Kaap in goeie hande is. Jeffreysbaai, die Oos-Kaapse juweel, het sopas nege medaljes – waarvan sewe goud – gewen.
“Om sewe goud, een silwer- en een bronsmedalje te kon huis toe bring beteken ongelooflik baie vir ons gemeenskap,” sê die Oos-Kaapse hoofafrigter, Pieter Pretorius.
“Ek is uiteraard in die wolke met dié merkwaardige prestasie. Ek het realisties na sewe medaljes gemik, maar nege is die kersie op die koek.
“Dan het ons buurman Humansdorp die Oos-Kaapse naam ‘n verdere hupstoot gegee met drie goues en een brons, terwyl die deelnemers van die Baai ook met ‘n goud en ‘n silwer teruggekeer het huis toe.”
Met só ‘n vyfstervertoning is dit geen verrassing dat die Oos-Kapenaars die jongste SA ranglyste domineer nie.
In die o.10-afdeling is Faygon Goeda van die Laerskool Pellsrus op Jeffreysbaai in die eerste posisie, terwyl Ruwellyn Bantom van dieselfde skool los voor is in die o.12-afdeling met 207.56 punte. Sy naaste teenstander in die tweede plek is Sokhella Blessing van Gauteg met 157.70.
Die o.14-afdeling word deur Pellsrus-leerders oorheers. Lumar Karolse is gemaklik in die eerste plek, met Bantom derde, Marlin Matthews vierde, Jason Hallem vyfde en Juandre Kramer sesde.
Dan het die Oos-Kaap ook die spantrofee vir seuns en meisies in die jeugafdeling ingepalm. Intussen lyk die toekoms van die sport rooskleurig. Al die o.14-seuns is volgende jaar steeds o.14, Bantom is steeds o.12 in 2026 en die o.17-meisies is die volgende twee jaar nog o.17.
Pretorius sê sy groot uitdaging nou is om o.10-deelnemers te ontgin. Pretorius se sukses kan meebring dat talle ander jonges na vore sal tree om die sport te beoefen.
Hy kan dalk ook nog ‘n borgskap of twee losslaan om sy atlete na die volgende vlak te neem.




