ONDANKS beperkings en ’n pandemie, het die Kouga-gebied ’n gunstige feestyd gehad.
Vakansiegangers het op die streek se besondere strande toegesak.
Die voorsitter van die Kouga Besigheidsforum, Lieb Swiegers, meen die verligting van die inperkingsmaatreëls en die opheffing van die aandklokreël het beslis daartoe bygedra dat veral die restaurante goed sake gedoen het.
“Die meerderheid van die akkommodasie-plekke was volbespreek. Die seisoen was ook aansienlik langer as in die verlede en besighede het die invloei van mense reeds van so vroeg as begin Desember waargeneem en dit het eers vandeesweek geëindig.
Die meeste van die besighede het goeie omsette gehandhaaf op vlakke gelykstaande en beter as die 2019 seisoen voor Covid,” sê Swiegers.
Hierdie resultate is behaal ten spyte van die feit dat talle byeenkomste kanselleer is.
Die Kouga burgemeester, Horatio Hendricks, sê baie eiendomsagentskappe het ’n rekordjaar vir verhurings gerapporteer, met die vraag na vakansieverblyf wat oor ’n langer tydperk as gewoonlik gestrek het.
“Die algehele besoekertelling moet nog gefinaliseer word, maar die munisipaliteit is tevrede met die aantal toeriste wat hul va-kansie in die streek deurgebring het, wat broodnodige ondersteuning aan plaaslike besighede gebring het,” sê Hendricks.
“Ons het van die beste strande in Suid–Afrika en hulle was dag na dag propvol vakansiegangers. Ons streek is verder gespaar van verwoestende brande en vloede terwyl daar minimale onderbrekings in die elektrisi- teitstoevoer was.”
Skoonmaakspanne het die dorpe deurentyd skoon gehou, en is daarvoor geprys op sosiale media.
Een van die gewildste kuierplekke in die streek, Jolly Dolphin op Jeffreysbaai, was druk besig.
Plesiersoekers het daar byna soos van ouds saamgekom. Mede–eienaar Morné Muir sê, “Die voete was hier! Ons het goed gedoen, alhoewel die inkomste heelwat minder was as voor Covid. Van die vertonings was uitverkoop. Mense is steeds versigtig en dra maar meestal maskers.”
Muir meen egter mense word uitgebuit met verblyftariewe oor die vakansietyd wat dit vir talle onbekostigbaar maak.
“Ek het dit self beleef omdat ek plek moes huur vir my uitsmyters en die kunstenaars.”
“Ons wil nie 2020 oorhê nie! Al was daar nou nie ’n matriek rage nie, is ons bly hulle kon darem hier kom kuier. Besigheid het skerp toegeneem nadat die aandklokreël verander is. Op Oujaarsaand het ons goed ingehaal!”
Die eienaar van De Viswijf Restaurant aan die seefront in Jeffreysbaai, Fred Klemp, dink weer die seisoen was korter, en dat gaste eers rondom die vakansiedae begin instroom het, en hulle spandeer minder.
“Hier was ook nie veel buitelanders nie. Maar ons besigheid het verdubbel in vergelyking met die vorige seisoen. Ons is tevrede en dankbaar,” sê Klemp.
Op die platteland het sake stadiger verloop. Carin Ferreira, eienaar van die 33–jaar oue familie-onderneming, die Tolbos Restaurant op Patensie, sê finansieel het hulle per dag beter gevaar, maar weens inflasie, lopende koste, stygende pryse van produkte en die minimum loon, het hulle net gelyk gebreek.
“Onder die omstandighede is ons baie tevrede. Hier was beslis meer mense as verlede jaar.
“Gewoonlik dien die Desember besigheid as ’n kussing vir die res van die jaar om ons deur stil tye te dra. Maar ons is nie naby daaraan nie,” aldus Scheepers.




