Foto ter illustrasie.

Foto: Pixabay

Daar is seker min mense wat nie sukkel om name te onthou nie. Meeste sê hulle onthou gesigte, maar name – aikona!

Party mense sê hulle onthou ’n naam beter as hulle dit geskrewe sien. Ander glo weer daaraan om assosiasies te maak. Soos die bejaarde vrou wat ek laasweek ontmoet het. Sy vertel van die man wat hulle ontmoet het met die naam “Kosie”.

Sy het gewonder watter assosiasie sy sal maak, toe val dit haar by dat sy naam ’n “klein piepiepotjie” beteken. Sy kon sweer sy sal sy naam onthou

En jou waarlik- toe sy hom weer raakloop, sê sy ewe kordaat: “Middag Pottie!”

Gepraat van assosiasie. Ek is die kortste in die gesin en word dus “Stompie” genoem. Toe ’n maatjie eendag by my wou kom kuier, het sy haar ouma gevra of sy by “Sigaretjie” kan gaan speel.

My Oom Stoffel het altyd so mooi vir almal op die naam gebid. Tot ek eenkeer gaan kuier het, en my naam hom ontgaan het. Ek het sommer onder die gebed my naam gesê.

Wat baat dit tog dat kinders met ’n string name gedoop word, en uit-eindelik vind ’n bynaam veel meer byval. Soos my broer Japie. Maar hy is plegtig gedoop Jacob Rudolph Jakobus. My pa had dieselfde doop-name, maar was Dolf genoem.

’n Vriendin vertel van twee niggies in die familie, Melony en Nadia, wat mekaar van kleins af “Lielietjie”en “Lallietjie” genoem het, en die name het gebly.

Die ding van name gee fasineer my. Kyk nou net die sportmanne met hulle eienaardige name: Faffa, Beast, Bakkies, Butch, Mof, Tjol en Klippies – om maar ’n paar te noem.

En waar sou van ons kunstenaars aan name kom soos Hemelbesem, Snotkop, Bok, Bles, Min, Worsie, Dozi. Om nie eers te praat van saamgeflansde of nuutgeskepte vanne nie: Kombuis, Kraamsaal, Windpomp, Kerkorrel, De Priester.

Mens aanvaar dat name in die vermaaklikheidsbedryf goed moet klink, moet vloei en uitstaan sodat dit makliker onthou kan word. Maar party musiekgroepe laat my frons.

Dink maar aan die Grafsteensangers, Spoegwolf, Melktertkommissie, FokofPolisiekar, Tuindwergies, Ddisselblom, Die Antwoord en Glaskas – wat nou wat te make het met musiek?

Maar hulle slaag in die doel dat aanhangers dit onthóú!

Daar is talle maniere wat ons kan aanwend om ons geheue te verbeter. As Senior Mind Moves Fasiliteerder, onder leiding van dr. Melodie de Jager, moedig ons ’n paar bewegings aan om die brein wakker te maak.

Een daarvan, temporale tikkies, beteken dat jy met jou vingers bakkies maak en om die ore sit. Tik dan liggies met die vingerpunte op die skedel rondom die ore. Doen dit minstens drie keer rondom die ore.

Nog ’n beweging om geheue te verbeter, is om die oorskulpe met die duim en voorvingers vas te hou. Masseer dan albei oorskulp gelyk-tydig van bo na onder met sirkelbewegings, en herhaal dit minstens drie keer.

  • Die eksentrieke diamantduiker van Port Nolloth oor wie ek ’n rukkie gelede vertel het, George Moyses, is onlangs oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article