KORAALSTRAAT in Jeffreysbaai is ’n besige pad wat die onderdorp, sowel as Astonbaai, met die boonste deel van die dorp, waar Fountain’s mall is, verbind.
Hierdie straat het egter onge-lukkig ook in ’n gewilde resiesbaan geword vir onverantwoordelike inwoners.
Privaatmotors, aflewerings- voertuie en sekuriteitsmaatskappye gebruik almal hierdie pad om vinnig deur die dorp te beweeg, sonder dat hul spoed gebreek word deur spoedhobbels, sirkels en ander verkeersmaatreëls om spoed te verminder.
Lumen Steyn, eienaar van ’n kleuterskool in hierdie straat, het sy kommer uitgespreek oor die gevare wat hierdie roekelose be- stuurders vir die kleuterskool se kinders, en ander inwoners van hierdie hoofsaaklik residensiële omgewing inhou.
“Motoriste ry so vinnig in die straat dat hulle min in hulle eie baan kan bly wanneer hulle om die draaie gaan, en is so ongedul-dig dat hulle op die vaste wit streep bymekaar verby jaag op ’n daaglikse basis,” het Steyn gesê.
Sy vertel dat hulle reeds twee keer hul muur en heining moes vervang op eie onkoste, omdat roekelose bestuurders daar deurgejaag het.
Volgens haar het nie een van die motoriste versekering gehad nie, en sy moes noodgedwonge die herstelwerk op eie onkoste aangaan sodat sy haar kleuterskool kon heropen.
Die jongste voorval het op Saterdagnag, 3 April plaasgevind toe nóg ‘n motoris deur een van die kleuterskool se mure gery het. Omdat dit ’n besigheidsperseel is en daar niemand snags op die perseel is nie, is Steyn eers Sondagoggend deur bure ingelig van die voorval. Teen daardie tyd was die skuldige weer eens nêrens te vinde nie.
“Ons kan in hierdie stadium nie eers die onderste deel van ons tweede speelgrond gebruik nie, aangesien ek nie die mense op die pad genoeg vertrou om in die pad te bly nie.”
Volgens Steyn het die inwoners van Koraalstraat reeds in 2016 ’n petisie opgestel en aan verskeie plaaslike regeringsdepartemente gestuur, met die versoek dat die straat beveilig word, maar volgens haar is daar tot dusver geen poging aangewend om daaraan gehoor te gee nie.
“Dis jammer dat die munisipaliteit die skuld kry omdat daar niks aan die pad gedoen word nie, aangesien dit elke bestuurder se werk is om die padreëls te volg.
“Ons weet dat daar na die laaste ongeluk deur die burgemeester op Facebook gemeld is dat hulle daarna kyk om iets aan die straat te doen en ons waardeer dit,” het Steyn gesê.
Hattingh Borman, DA raadslid van wyk 11 het by navraag gesê dat hulle besef die Koraalstraat situasie benodig dringende aandag.
“Ons is reeds besig om die moontlikheid van spoedhobbels asook ander spoedreguleringsmetodes te ondersoek. Ongelukkig is dit ’n deurpad vir ambulansdienste, polisie en die brandweer, en dit moet alles in ag geneem word wanneer hierdie maatreëls ondersoek word,” het Borman gesê.
Intussen doen die inwoners van Koraalstraat ’n beroep op motoriste om die padreëls te gehoorsaam.




