Kooks die kat ry 700 km van Kaapstad tot St. Francisbaai saam in voertuig se onderstel

Celeste Perry is steeds oorstelp omdat Kooks, haar Birmeense kat, teen alle verwagtinge in gevind is. Foto: VERSKAF

Foto: Verskaf

Celeste Perry is steeds oorstelp omdat Kooks, haar Birmeense kat, teen alle verwagtinge in gevind is. Foto: VERSKAF

Hierdie is nou die ware verhaal oor ’n kat en haar oorlewing in die onderstel van ’n Land Rover Discovery 5 oor ’n 700 km-rit, ’n sein-sender-tjie, ’n selfoontoepassing (app) en vyf ouma’s wat die vakansiepad van Rondebosch in die Wes-Kaap na St. Francisbaai in die Oos-Kaap aangepak het.

In kort kan ’n mens sê Kooks, die Birmaanse kat, het almal op hol gehad oor haar onverwagse “vakansie” en, was dit nie vir een van die vyf ouma’s wat op Saterdag, 13 Maart die Argus-fietstoer aangepak het, was Kooks dalk nou nog soek.

Want dié fietsry-ouma het voor die Argus-wegspring haar foon se Bluetooth-funksie aangeskakel om die sport-toepassing Strava af te laai om haar werkverrigting tydens die fietstoer te monitor.

Ná die fietstoer het die belangrikste ding gebeur: hierdie selfde ouma het vergeet om haar selfoon se Bluetooth-funksie af te skakel.

Kooks die kat het in dié gedeelte van die Land Rover Discovery 5 geklim en 700km saamgery.

Kooks se lang pad

Vroeg die Maandag ná die fietstoer het die vyf Rondebosch-ouma’s in die Land Rover Discovery 5 vanaf Rondebosch vertrek na hul vakansiebestemming in St. Francisbaai. Dit was glad nie ’n gejaag van punt A na punt B nie, maar hier stop, daar stop tot by die vakansiedorp.

Die volgende dag (Dinsdag) kyk hulle op hul straat se Whatsapp-groep om op hoogte van buurtsake te kom. En daar kry hulle die nuus: Kooks die Birmaanse kat word al sedert Saterdag vermis en is weens een of ander onverklaarbare rede nou in St. Francisbaai . . .

Almal het geweet Celeste Perry, een van hul buurvroue, is die kat se ma, so toe bel hulle haar en sê hulle is juis in St Francisbaai, hulle sal help soek. Celeste bedank hulle en sê Kooks se selfoon senderinstrument (Samsung Air Tag) aan haar halsband het die Maandagoggend beweging begin wys en tot haar verbasing het haar geliefde kat al hoe verder uit Kaapstad bly beweeg. Sy noem toe ook die plekke waar hy op pad na St Francis aangedoen het: Riviersonderend, Engen-vulstasie naby Mosselbaai, Knysna en, net voor die sein doodgegaan het, die Blue Bottle-drankwinkel op St. Francisbaai.

Die vyf ouma’s het hul hande saamgeslaan: Kooks se “haltes” op die 700 kilometer roete van Rondebosch na St Francisbaai was ook hul haltes . . .

Kooks het saam met húlle gery!

Operasie Soek Kooks is geloods – met selfone geaktiveer op Bluetooth want, dit aktiveer weer Kooks se halsband-sendertjie. Die plaaslike inwoners het naderhand gehoor van die kat wat op die Land Rover se onderstel as “passasier” saamgery het, dat hy ’n selfoonsendertjie aan sy halsband dra en dat haar laaste sein by die drankwinkel ontvang is.

Die soektog is verskerp in die omstreke van die drankwinkel, maar teen Woensdagaand was daar nog g’n sein of miaau van Kooks die Birmaanse kat nie.

Waar is Kooks?

In Kaapstad het Celeste haar foon bly dophou vir enige moontlike seine wat deurkom van Kooks sodat sy die ligging aan die soekspanne kan deurgee. Donderdag se soektog, ook ondersteun deur ’n groot aantal diereliefhebbers van St. Francisbaai het egter ook niks opgelewer nie.

Naderhand het die ouma’s begin vermoed dat Kooks nie by die drankwinkel nie, maar by hul plek van vakansieverblyf op St. Francisbaai uit die Land Rover geklim het.

Ná oorlegpleging met die gemeenskap en dieregedragskundiges, is ’n vanghok, met Kooks se gunstelingkos daarin, by die vakansieverblyf gestel.

Teen Vrydagmiddag kon Kooks se angsbevange mense-ma Celeste nie meer die spanning verduur nie en haal toe ’n vlug van Kaapstad na Gqeberha (Port Elizabeth) om saam te help soek na haar geliefde kat. Agtuur die aand het sy aangeklop by die huis waar die vyf ouma’s vir hul vakansie tuisgaan.

Sy het met ’n flits deur die tuin geskyn en twee blink kolletjies gesien. “Kooks!” het sy uitgeroep en waarlik, daar kom Kooks toe uit die donkerte na haar aangehardloop!

Die vyf verligte ouma’s kon toe hul laaste vakansiedag op St. Francis sonder kwellinge geniet voor hulle die pad weer Rondebosch toe gevat het – sónder ’n harige verstekeling in die Land Rover se onderstel.

Die ouma’s sê Kooks se uitsonderlike storie hou twee lesse in:

1. Ondersoek altyd jou voertuig se enjin en die hele onderstel vir enige kat of ander “ryloper” voor jy die lang pad vat.

2. Sit ’n sein-sendertjie (GPS) aan jou geliefde vierpoot se halsband.

Maar wat sê Celeste, ma van Kooks?

“Dit is crazy – ’n mens kan nie hierdie soort stories uitdink nie! Wat is die kans dat enige kat só ’n 700 km lange rit, en dit teen hoë snelhede, kan oorleef?”

Inderdaad. Vertel hierdie storie om die volgende vleisbraaivuur én vertel verder van die sendertjie, die “selfoon-soekspan” én ’n klomp inwoners wat saam help soek en die ouens sal sê: “Dis nou vir jou ’n lekker liegstorie.”

Celeste, verheug om haar geliefde Kooks weer terug in haar arms te hê, kan nie uitgepraat raak nie oor die St. Francisbaaiers wat saam help soek het.

“St. Francisbaai is ’n gemeenskap met ’n baie groot hart vir diere. Ek weet nie hoe om dankie te sê vir al die hulp nie. Dankie veral ook aan die lede van St. Francis Animal Rescue wat gehelp soek het.”

Kooks en sy mense-ma, Celeste Perry is na hoogdrama weer bymekaar.
Kooks die Birmeense kat is weer veilig tuis in Rondebosch, Wes-Kaap na sy “vakansie” in St Francisbaai in die Oos-Kaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article