‘n Gedeelte van die komitee van die Oos-Kaapse Seniorburger-sangfees wat vanjaar vir die derde keer op Jeffreysbaai gehou word in September. Van links is Ronel Maarschalk, Retha van der Merwe, Rachie Badenhorst, Logy Murray en Annatjie Smit.

Foto: Veronica Fourie

As jy dalk lanklaas uit volle bors gesing het en lus het om sommer vrolike, bekende liedjies saam met ’n massakoor te sing, is dit nou jou kans om deel te neem.

Dit maak nie saak of die stem al bietjie krakerig is nie, en jy hoef nie ’n oudisie af te lê nie. Hoewel die koor meestal uit senior burgers bestaan, is enigiemand welkom. Al wat nodig is, is toewyding en getrouheid om kooroefeninge by te woon totdat die Oos-Kaapse Seniorburger-sangfees op Jeffreysbaai op 7 September plaasvind.

Dit is nou die derde jaar wat die fees gehou word. Die vorige twee was ’n reusesukses. Mense van Jeffreysbaai en alle omliggende dorpe het deelgeneem aan die fees wat in die NG Kerk Kompleks op die Skulpiedorp gehou is. Verlede jaar was 17 dorpe verteenwoordig, en die organiseerders hoop op nog meer. Selfs van ander provinsies. Die groepe op verskillende dorpe oefen op hulle eie, en kom eers almal bymekaar kort voor die massa-optrede.

Oefentye

Vanjaar se tema is diere name, en dit beloof groot pret te wees. Oefeninge sal van middel April af begin, en vind een keer per week op ’n Donderdagaand om 17:30 plaas by die Metodiste Kerk in Da Gamaweg.

Voornemende sangers moet onverwyld voor die einde van Maart aanmeld by Ronel Maarschalk by 082 692 4385, sodat genoeg musiekstukke voorberei kan word vir elkeen om lekker saam te sing.

Nuwe koorleidster

Die Seniorburger-sangfees was die blink idee van bekende Oos-Kaapse musikus Bouwer van Rooyen. Tot verlede jaar het Annatjie Smit van Jeffreysbaai hom bygestaan. Retha van der Merwe neem vanjaar die verantwoordelikheid oor, in samewerking met Rose Graham. Rachie Badenhorst is die hoof begeleier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article