Dr. Erna Cloete, dr. Leonard Heydenrych, Kirsti Limbert en Liza Klopper.

Foto: Verskaf

Vyf van die beste musici gaan op 4 Augustus te sien wees tydens ’n optrede in Jeffreysbaai.

Die tema van die uitvoering is Amore Musicae, wat hulle liefde vir musiek sal uitbeeld. Dis ’n dinamiese fluitkwartet met musikante van Jeffreysbaai en Gqeberha met baie ervaring en passie vir musiek.

Dr. Leonard Heydenrych is ’n kornea-spesialis en befaamde fluitspeler wat pendel tussen Gqeberha en Kaapstad. Sy instrument het selfs ’n goue kopstuk, waar ander ’n silwer kopstuk het. Hy het ’n orkes, Heydenrych’s Orchestra, wat gereeld in Kaapstad en omstreke optree.

Liza Klopper is ’n Gautenger wat haar onlangs op Jeffreysbaai gevestig het. Sy is lid van die Oos-Kaap Filharmoniese Orkes. Sy gee tans fluitlesse by die Victory Skool.

Kirsti Limbert bespeel die piccolo, en was ’n student van dr. Erna Cloete aan die Nelson Mandela Universiteit.

Dr. Cloete is ook van Jeffreysbaai en is al twintig jaar lank verbonde aan die NMU. Sy doseer onder meer fluit en blokfuit. Sy bespeel die altfluit en dwarsfluit in die ensemble.

Cloete, Klopper en Limbert sal as ’n trio ’n Keltiese stuk speel en Limbert sal ’n solo op die piccolo lewer.

Die ensamble sal klassieke werke van Mozart, Debussy en Tchaikovsky speel, asook bekende musiek wat die gehoor sal betower.

Die klavierbegeleier is dr. Erika Botham-Troskie. Sy was jare lank klavierdosent by NMU en is ook die president van die PE Music Society. Sy reël gereeld konserte met plaaslike en internasionale kunstenaars.

Die konsert vind op 4 Augustus om 15:00 plaas by die Marina Sentrum in Dolphinrylaan by die Marina Martinique.

Besprekings moet deur Quicket gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article