KYKNET se gewilde koswerklikheidsreeks, Kokkedoor, keer volgende jaar terug en is opsoek na deelnemers.

Die eerste twee Kokkedoor-reekse is onderskeidelik in 2013 en 2014 uitgesaai, wat opgevolg is deur twee seisoene van Koekedoor, daarna Kokkedoortjie en toe Koekedoortjie.

Vir Kokkedoor 3, wat in Julie 2019 uitgesaai sal word, soek kykNET weer na die perfekte kombinasie van onthoukok en kinkelkok.

Die eerste twee seisoene van Kokkedoor het in Prins Albert in die Karoo afgespeel.

Paul Venter, die vervaardig-er van dié suksesvolle kosreekse, sê egter vir die derde reeks gaan 20 deelnemers, 10 onthoukokke en 10 kinkelkokke, hulle in Kaapstad moet aanmeld by Atlantic Studios waar Kokkedoortjie en Koekedoortjie ook geskiet is en reekse soos Suidooster, Kwêla en Tussen Ons vervaardig word.

Hetta van Deventer-Teblanche en Nic van Wyk sal die beoordelaars wees, en gaan deur die be-kende kosskrywer en -blogger, Sam Woulidge, bygestaan word.

Wat is ’n onthoukok? Hulle is die fakkeldraers vir onthoukos en, al het hulle nie formele sjefs-opleiding en professionele ondervinding nie, klop hul harte warm vir tradisionele kos. Vir inspirasie span hulle herinneringe en beproefde metodes van ma’s, oumas en tannies uit die huiskombuis in. Onthoukokke word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis en passie vir onthoukos.

Wat is ’n kinkelkok? ’n Kinkelkok se uitdaging is om hul sjefskwalifikasies, professio-nele kombuiservaring en uitstekende tegniese vaardighede vir vernuwing in te span. Kinkelkokke word gekies vir hul kwalifikasies en/of hulle ondervinding in ’n erkende restaurant en professionele kombuis (nie ‘n braairestaurant of koffiekroeg nie.)

Inligting en inskryfvorms is beskikbaar by by www.kyknet.tv.

Belangrike inligting

  • Navrae kan gerig word aan navrae@kokkedoor.tv
  • Deelnemers moet ouer as 18 wees.
  • Inskrywings is oop vanaf 17 September to 16 November 2018.
  • Oudisies sal in Kaapstad, Bloemfontein en in Johannesburg in die week van 26 November plaasvind.
  • Die skietdatums vir finaliste is 4 Februarie tot 7 Maart 2019.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article