Mensig! Maar die Britte het omtrent uitgehaal en gewys met die kroning van koning Charles III!
Laat ons hulle die eer gee: hulle kán ’n aanskoulike en vermaaklike feestelikheid organiseer. Daar is natuurlik verskeie menings oor die koninklikes – party is gaande oor hulle en volg elke storie oor hul doen, late en skandes, en ander vermy hulle soos die pes. Ongeag die gevoel oor die koninklike stelsel: die skouspel van troues, begrafnisse en nou ook die kroning is asembenemend.
Sowat van prag en praal sien mens net in flieks en in sprokiesverhale. Dis dalk hoekom die hele gedoente van konings, prinse, paleise, koetse, perde en wat nie als nie, ons so aangryp. Die mens hunker maar na ’n soort feëverhaal, waar daar helde, mooi mense, romanse, en adelikes is wat ons betower.
Elke sprokie het natuurlik ook sy heks en lelike suster…(wie wou nou nie eerder graag die skone Lady Di in die koets gesien het nie?)
Terwyl ek aan my Earl Grey tee geteug het tydens die kroning-uitsending, het ek my vergaap aan die adelike gaste se flambojante uitrustings, en veral die vroue se hoede wat my altyd aan vlieënde pierings laat dink. Koning Charles se goue jurk was so imposant. So ook die simboliese geskenke wat hy ontvang het, waaronder die septer, ring, swaard en kroon met die Cullinan diamant uit Suid-Afrika. Koning Charles III moes die paadjie in die Westminster Abdy na buite versigtig stap om die kroon van meer as twee kilogram op sy gryskop te hou.
Toe die koning so moes kniel, het ek darem gewonder of hy op sy rype 74-jarige ouderdom dalk ’n ekstra pilletjie ge-neem het die oggend teen rumatiekpyne. Of was sy hand, met die pinkiering, dalk ook maar stywerig toe hy sy handtekening moes maak? Hy het dalk sweterig geraak na al die veranderings van mantels, amps-serpe, militêre versierings en uniform.
Oud-koerantman en skrywer Hennie van Deventer het op sosiale media ook my gedagtes weergegee toe hy sy bewondering uitgespreek oor die koorknapies en bejaarde gaste wat so goed kan knyp en die vier ure lange seremonie kon uithou sonder om die kamer te verlaat!
Sou die koning nie dalk sy bril nodig gehad het met die lees van sy beloftes nie? Hy moes ook seker die afgelope dae sy hare laat sny het. Ook gesorg het dat al sy medaljes gepoets is, en dalk is hy verder gepamperlang met ’n pedi- en manikuur. Miskien het hy selfs sy tande laat witter maak vir ingeval hy sou glimlag. Dalk kon hy nie wag dat dié ingekorte seremonie moes klaarkry nie, sodat hy en die koningin ’n uiltjie kon gaan knip nie.
Eers moes hy nog wuif en kopknik vir al die gaste van die balkon af. As ek hy was, sou ek ’n ou kalmeerpilletjie ge-drink het vir die spanning, veral met die moelike situasie met sy rooikopseun wat (darem) alleen opgedaag het en flussies vertrek het.
Ons sal nou moet sien of die seëninge van liefde en wysheid wat die aartsbiskop hom toegewens het, uitgeleef sal word. Die koning is gekroon om te dien, en nie om gedien te word nie, sê hulle.
Die kus van Prins William het mens laat besef dat hy steeds ’n pa is. Lank lewe die koning!




