DIE Kruisfonteinkliniek op Humansdorp het laat verlede jaar totsiens gesê aan hul getroue sekuriteitsbeampte van Silver Solution Security met ’n donkierit deur die strate van Arcadia.

Oom Benjamin tydens sy afskeidspartytjie. Foto: Anthony Augustus

Benjamin Vukile Norushu, of-tewel oom Benjamin (64) het vir die afgelope sewe jaar nie net ge-trou die personeel se veiligheid verseker nie, maar ook pasiënte se emosies hanteer en as die gunsteling “nommer een,” gou almal se liefde en respek gewen.

Oom Benjamin, wat in die KwaNomzamo woonbuurt etlike kilometers vanaf sy werkplek bly, moes elke dag die eerste een wees wat die hekke oopsluit en verseker dat almal wat die kliniek besoek, veilig en gemaklik is.

Na afloop van die verrassings-partytjie wat deur die personeel gereël is, is oom Benjamin op ’n donkierit geneem, gevolg deur ’n string motors met blasende toeters en al.

Tydens die “glansgeleentheid,” wat slegs ’n handjievol mense weens die COVID-regulasies kon bywoon, het elkeen net met lof van Oom Benjamin gepraat.

Die hoof van die kliniek, suster Lungisa Lubisi, kon haar trane nie keer toe sy in haar spreekbeurt hulde aan hom gebring het nie.

Die personeel het daarna oom Benjamin met geskenke oorlaai.

“Ek sou so graag vir ewig hier by die kliniek wou werk, maar my aftree-ouderdom laat my egter nie toe nie,” het Oom Benjamin op sy beurt gesê.

Op die vraag waar die bynaam, “number one” vandaan kom, het hy geantwoord dat die skoolkinders hom so genoem as hulle die kliniek besoek het.

“Hulle het my so genoem omdat ek altyd ’n soetdingetjie, soos ’n lekker of so, in hul hande gestop het. Dis nou as hulle hul gedra het en soet was,” het Oom Benjamin bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article