Wat kies jy vir wiele wanneer dit by skoolverlaters kom?
Hoewel die matrikulant in jou huis eers vroeg aanstaande jaar universiteit of kollege toe gaan, is dit nou – minder as ses maande voor die einde van die skooljaar – die regte tyd om na ’n ryding vir hulle te begin soek.
Maar, met digby die 50 voertuigvervaardigers in Suid-Afrika, wat kies jy?
Wiele praat vir die doeleindes van hierdie oefening net van rygoed op vier wiele (dus nie motorfietse nie) en beperk die koopprys op enigiets minder as R130 000.
Die vyf ouers met wie ons gepraat het, het uiteenlopende benaderings – van ’n absolute skedonk wat net kort afstande kan ry tot iets splinternuut wat veilig, dalk selfs ’n bietjie luuks is, en gewis suinig met die voggies werk.
Christie van Tygervallei in Kaapstad sê vandag se jongmense “wil bo begin”, maar hy voel hulle moet maar eers ’n paar lewenslesse leer, soos om hul eerste motor te koop.
“Ek verkies ’n gebruikte motor – verkieslik een wat al ’n paar eienaars gehad het. Nuwe en demonstrasiemodelle is dus uit. Ek voel my seun moet darem die basiese werking en algemene instandhouding van ’n motor leer ken.”
Jannie laat weet uit die Vrystaat
hy het sy oog op veiligheid.
“Enige ouer se grootste kommer is dat sy of haar kind langs die pad gaan staan weens meganiese probleme met ’n studentekarretjie. Hoewel jy nie kan waarborg dat dit nooit met ’n gebruikte of selfs ’n nuwe motor sal gebeur nie, kan jy grootliks voorsorg daarteen tref.
“Nog ’n vereiste is basiese veiligheidsitems, soos ’n lugsak vir die bestuurder en ABS-remme.”
Nog ’n leser, Johann van Sonstraalhoogte in Kaapstad, meen basiese geriefstoerusting, soos sentrale sluiting, is ook belangrik, maar eerder uit ’n oogpunt van sekerheid.
“Kragstuur is ’n moet, maar studente kan maar sonder lugversorging klaarkom – die motor is tog net vir gebruik oor kort afstande. En as die kar nie ’n klankstelsel het nie, kan sy maar haar eie sakgeld daarvoor gebruik.”
Oulike rygoed vir rondom R130 000 sluit in ’n Honda Jazz van 2012 tot 2014, maar pasop vir rygoed soos Citroën se klein C1 en enige Chevrolet-produk – hoewel die vervaardigers nie meer nuwe modelle hierheen bring nie, is onderdele nie ’n probleem nie.
Megan van Stellenbosch is juis besig om na sulke motors te kyk en het haar hart op ’n gebruikte Volkswagen Polo-luikrug van so 2012 tot 2014, “want hulle het daai tyd omtrent R100 000 gekos”.
“Polo’s wat so twee of drie jaar oud is, het omtrent 50 000 km agter die rug. Hulle is goedkoop om in stand te hou en lig op petrol, maar het alles wat jy wil hê – lugversorging, kragstuur, ABS . . . noem maar op.”
Almal met wie ons gesels het, is dit eens dat ’n nuwe motor nie die antwoord sal wees nie – net die Renault Kwid se prys (R127 900) is onder R130 000, en hy het net ’n bestuurderslugsak en gewone remme (nié ABS nie), nes die goedkoopste Datsun Go (R132 900).
’n Gebruikte motor is dus die antwoord. Kyk omvattend na die voertuig – goed soos veiligheidstoerusting, veral omdat jong bestuurders nie ervaring het nie en iets soos ABS is amper ’n vereiste.
Maak seker die voertuig is in ’n goeie meganiese toestand. Laat dit nagaan en toets – moenie net aanvaar alles wat die verkoopsmense sê, is noodwendig so nie.
Die verkoper of inruiler het waarskynlik geswyg oor die voertuig se brandewynvlekke.





