Foto ter illustrasie.

Foto: Unsplash

Wat is die eerste simbool van kersfees waaraan jy dink? ’n Kersboom, kersliggies, kersvader – of baie eet en Jingle Bells?

Kersbome fassineer my. Dis gewoonlik die eerste ding wat ek uitpak aan die begin van die feestyd. Die liggies daarby bring my sommer eensklaps in die feesstemming. Dis insiggewend hoe mense hulle kersbome versier.

Dit wissel van nagemaakte groen of wit bome, vars dennetakke, garingboomtakke of selfs dryfhout, plankies of stokke. Net so met die versiering. Party tooi hulle kersbome met die tradisionele kersballe, tinsel, liggies en allerlei kersornamente.

Ek het al gesien hoe ’n troeteldierwinkel ’n boom vol diere-poppe gehang het, ’n supermark met groete en vrugte ’n boom versier het, en in die Surfer Village op Jeffreysbaai dartel daar selfs klein ski-plankies aan ’n buite-boom. My boom het rooi en silwer kersballe waarop my geliefdes se name geskryf is, en baie liggies.

Die historiese betekenis van die kersboom gaan mens verby. Hoewel daar verskillende betekenisse aan gekoppel word, word dit sedert die Middeleeue beskou as ’n simbool van die boom van die lewe, en die appels wat as versierings gedien het. Dié is mettertyd vervang met glasballe wat deur glasblasers gemaak is, omdat die appels te swaar was. Gaandeweg het die versierings simbole van vreugde en lig geword. ’n Ster aan die bopunt van die boom het gedui op die Ster van Bethlehem wat die wyse manne uit die ooste na die Jesus-kind gelei het. Dié gebruik het uit Duitsland oor die wêreld versprei.

Die woord ‘Kersfees’ het niks met kerse te make nie. Dit kom uit die ou Nederlandse benaming vir dié dag en beteken letterlik ‘Christusfees’. Die Nederlandse vorm Kerst vir Christus word ook gebruik in die woord ‘kersten’ wat beteken om mense tot die Christendom te bekeer. In Engels word verwys na ‘Xmas’, waar die X ’n Griekse letter is wat Christus beteken.

Daardie boeppens ou met die rooi jas en wit baard wat geskenke bring, heet Kersvader, of Sinterklaas. Sy ontstaan is glo te danke aan ’n biskop genaamd Nicolas in Klein-Asië (nou Turkye). Na sy dood is hy tot heilige verklaar en as St Nicolas bekend gestaan: die beskermheilige van kinders. In Nederlands is dit vervorm na Sinterklaas en vandaar die Engelse ‘Santa Claus’.

Die kenmerkende rooi kleur dui op Christus se bloed wat gestort is, en die wit versinnebeeld reinheid. Die kierievormige wit-en-rooi gestreepte lekkers dui glo op dié twee betekenisse, en die kierievorm verwys na die skaapwagter se staf. Drie rooi strepies verteenwoordig die drie-eenheid. ’n Duitse lekkergoedmaker het in 1847 sy kersboom met lekkers versier. Hy het ook bedoel dat die kierievorm se J vir ‘Jesus’ staan.

Die groen kleur van kersfees verteenwoordig ewige lewe, en die liggies is beduidend op God se lig. Die kerkhervormer Martin Luther het volgens vertellings gesien hoe mooi flikker die sterre deur die takke van ’n denneboom, en het toe ’n tak gepluk en huistoe geneem, waar hy dit destyds met kerse versier het.

Vier kerse word gewoonlik gebruik in ’n advent krans wat die vier weke voor Kersfees aandui.

Hoe jy ookal Kersfees vier, mag dit geseënd wees, sonder familietwis, met genoeg geld en goeie gesondheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article