KARAKTERVOL, kunstig, tog natuurlik en rou. . .
Bonkige, praktiese meubels wat jy in jou huis kan sién. Derik Raw Timber & Sonya Art Furniture is ’n wenspan wat in Kareedouw gesetel is, maar hul pronkstukke pryk oral deur die land.
Kunstenaar Sonya Burger glimlag innemend oor ’n koppie boeretroos, en wys foto’s van bontgeverfde of natuurlike houtmeubelstukke op wieletjies wat so prakties is dat ek dadelik my kombuis wil oordoen.
Uitsonderlik en slimgemaak volgens die kliënt se spesifikasies.
Sy sê, “Ek verkies om my kliënte presies te gee wat hulle verlang. Sodra ons op dieselfde bladsy is, is dit opwindend om vrye teuels te kry.”
Sonya praat wyse woorde: “As mens die estetika met die gebruiksartikel kombineer, het jy die volle pakket. Dit is ’n ontwykende ideaal want in gewone winkels vind jy selde iets uniek, die kunsfaktor ontbreek of ’n klassieke stuk is nie noodwendig prakties nie.”
Derik Furniture is in Julie 2012 op die been gebring deur Derik Burger. Sonya het in Desember 2013 by hom aangesluit. Hulle het ’n vertoonwinkel in die Fountains Mall, Jeffreysbaai gehad, maar aangesien hulle regoor die land verkoop en vervoer, is dit oorbodig.
Met die aanvang van die COVID-19 pandemie het die inperkings talle sake tot stilstand gebring, maar nie dié span nie. Hulle kon aanhou werskaf in hul veelkleurige fabriek in Keetstraat, Kareedouw.
Die geheim? Kwaliteit, met soliede hout en kreatiewe skeppings. Hulle maak nie bloot meubels nie, hulle skep ’n leefstyl wat pragmaties en kunstig is.
“Die rede waarom ons in ’n baie kompeterende mark oorleef, is omdat elke item geskep word volgens die koper se keuse. Ons fokus op rondskuif-meubels – 90% klante verkies die wiele vir skoonmaak en herrangskik-doeleindes,” verduidelik Sonya.
“Ons werk as ‘n span saam. Ek praat met die kliënte, stuur foto’s, ruil gedagtes uit en teken die ontwerpe wat pasmaak is. Derik gee die pryse, sorg vir die hout en fabriek en meubels wat ons werkspan van vier mense doen.”
Kunsfaset
Sy het die kunsfaset by die meubels ingebring. Dié veelsydige kunstenaar is lid van die Kouga Art Society en het ondervinding in ’n magdom mediums.
“Ek leef baie na aan die natuur en hou daar van om die hout te kombineer met sement, verwe, teksture, pastel, loodglaswerk et al, en gaan met tye deur kleur- en stylfases. Elke meubelstuk is soos ’n doek wat wag.”
Kliëntkeuse-stukke in outentieke wit of met die verweerde voorkoms (maar steeds splinternuut) bly hul kenmerk, al strek hul meubelstyle van moderne, kontemporêre dekor, oudwêreldse sjarme tot boho.
Meubelman
Derik gaan nie na kliënte nie, maar sy skeppende hande omtower rou hout in pragstukke. Hy het aanvanklik laatnag alleen begin deur soliede hout met deernis te hanteer, maar het nou ’n span talentvolle vakmanne.
Derik het sy eerste klein vertoonwinkel in 2012 met min meubels begin. Later het hy ‘n groter plek betrek, en in Desember 2013 die kunsaspek begin inkorporeer.
“Dit was ’n taamlike ondervinding wat mense ánders na die meubels laat kyk het. Dit het ook ‘n hele nuwe mark geopen.”
Vir meer inligting, skakel 082 453 7459 of stuur ’n epos na sonyaderik@gmail.com. Besoek www.derik.co.za.



