DIÉ tyd van die jaar is haarkappers, kleremakers, skoonheidsalonne, fotograwe en bloemiste sommer baie besig. Ek hoor van dansklasse wat geneem word.
Dis natuurlik weens die matriekafskeidseisoen.
Talle skole het reeds die eerste grootmensaand aangebied die jaar, en vir nog ander lê die aand voor. Skole doen groot moeite om die geleentheid spesiaal te maak.
Party skole het ’n tema, en ander hou ’n spoggerige ete by ’n spesiale plek.
My eie matriekafskeid aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg, is ’n heerlike herinnering. My skoonsus Myra het vir my ’n pragtige sagte pienk strooimeisierok van ’n tydskrifprentjie af gemaak.
Dit was ’n lang skouerlose rok van satyn met ’n wit organza jakkie bo oor. My hare was opgemaak met krulle en jasmyn blommetjies.
My metgesel was ’n aantreklike donkerkop, al uit die skool, met ’n puntenerige aandpak en strikdas. Ons het darem ’n bietjie gedans.
Die spyskaart was Griekse geregte – ek het steeds die kaartjie.
Ek wil dit nou nie ’n droom-aand noem nie, want ons almal was te gespanne, en het meer belanggestel in hoe die ander meisies lyk, en was te benoud om seker te maak ons eet met die regte eetgerei.
Maar dit was ’n regte grootmensaand en vir my ’n spesiale geleentheid.
Ek het die afgelope dae op sosiale media talle pragtige meisies en jong mans gesien met smaakvolle uitrustings wat op die rooi tapyt loop. Dis die meerderheid.
Maar mensig! Ek lei af dat van hulle maar slegte raad gekry het. Van buuste wat dreigend bons, skoene wat skoon skeef getrap word omdat hulle nie met die steilte kan loop nie, en
die rokke wat so styf span dat mens verwag dit gaan enige oomblik losskeur, tot wimpers wat soos reënveërs oor die oë knipper, en hare wat die meisies onherkenbaar maak. Die ongemak is duidelik. Die skoene waai sommer gou.
Meeste jongmense word afgelaai in gewone netjiese voertuie. Maar dan is daar weer die uitspattiges wat hulle merk wil maak. Ek sien een meisie het selfs “bewusteloos” met haar goue blinker rok gearriveer op ’n drabed -met ’n ambulans! Die “paramedici” het haar bygekry met die skokapparaat, en sy het wonderbaarlik verrys met teatrale gebare.
In KZN waar dit die afgelope tyd kwaai gesneeu het, het ’n paartjie op perde en met sambrele in die sneeu gallant aangery gekom…soos in ’n sprokie. Daar is selfs motors met die name van die paartjie op die nommerplaat.
Die spesiale aflewering deur ’n koerier met die bloue trokkie, was toe al die tyd ’n paartjie wat uit die reuse bokse klim met groot fanfare! Van die paartjies se uitrustings is gekoördineerd. Ander lyk weer net reg vir ’n troue of die Durban-July!
Elkeen het sy droom oor hoe dié spesiale aand moet verloop, of hoe om dit onvergeetlik te maak.
Eendag, jare later, by ’n reünie praat mense weer onder mekaar oor dié aand.
Dan onthou jy die snaakse goed wat gebeur het, die buitengewone, jou maat van die aand en wonder wat van dié geword het, hoe jy lank gesukkel het om te besluit op die perfekte rok, en natuurlik ook die gebruiklike after party. Dit is voorwaar ’n grootmens aand!


