SPOORVEILIGHEID in die land is in goeie hande want selfs op die rype ouderdom van 73 jaar is een van die raadslede van die Spoorveiligheidsreguleerder (RSR) steeds gewillig om sy uitgebreide kennis te gebruik om te verseker dat alle treine op geoliede wiele loop.
Chris de Vos, ’n inwoner van Jeffreysbaai, is onlangs vir die vierde termyn as raadslid van die RSR aangestel en spog selfs met ’n brief van die minister van vervoer, Fikile Mbalula, wat sy aanstelling “met onmiddellike effek” bevestig.
Die doel van die RSR is om veilige spoorwegbedrywighede te verseker en oorsien deur gepaste ondersteuning binne ’n regule-rende raamwerk te bied.
De Vos, wat meer as 50 jaar se ondervinding het wat spoorweë betref, het aanvanklik vanaf 2006 tot 2009 en later vanaf 2009 tot 2013 op dié raad gedien voor hy afgetree het.
Daarna is hy in 2016 deur die destydse minister van vervoer, Dipuo Peters, as raadslid heraangestel.
Hy het sy derde termyn in September verlede jaar afgesluit.
Volgens De Vos is ’n nuwe raad saamgestel nadat hy sy derde termyn afgesluit het en hoewel hy bereid sou wees om verder op dié raad te dien, was dit toe nie die geval nie.
“Ek was daarom redelik verbaas om ’n brief te ontvang van die minister van vervoer, Fikile Mbalula, om met onmiddellike effek weer aangestel te word,” het De Vos verduidelik.
“Hierdie is nou my vierde termyn en op die jong ouderdom van 73 jaar sien ek nog kans om my kennis en ondervinding te deel en poog om spoorveiligheid weer op die vlak te plaas waar dit behoort: as die beste en bekostigbaarste vervoermetode in Suid-Afrika,” het hy bygevoeg,
De Vos, wat ook ’n voorliefde het vir rugby, hengel en gholf, is opgewonde oor dié termyn.
“As staatspresidente in die wêreld verkies kan word op ouderdomme van baie hoër as myne van 73 jaar, waarom sal ek dan nie nog kan werk nie?
Daarom het ek derhalwe die aanstelling aanvaar,” het De Vos bevestig.



