Vriende en familie van Laton Bosman het hierdie t-hemde na die hof gedra.

Foto:ANTHONY AUGUSTUS

Die polisie het ’n deurbraak gemaak in die moord op Laton Bosman (28) met die inhegtenisname van ’n 21-jarige verdagte.

Bosman, van Kruisfontein, is op Donderdag, 17 Junie wreed vermoor.

Na vier maande se intensiewe speurwerk, is Nkosinati Tontela deur die polisie aangekeer. Hy het verlede Donderdag sy eerste verskyning in die Humansdorp Landdroshof gemaak.

Die tenger Tontela het in handboeie verskyn. Familielede van Bosman was teenwoordig tydens die hofverskyning.

Buite die hof het ’n groep mense saamgedrom, maar kon egter nie die hof binnegaan nie weens die COVID-19 regulasies. Landdros Theresa Botma het die klagtes aan Tontela verduidelik en genoem dat dit ’n baie ernstige saak is en dat die saak dalk na die Hooggeregshof verwys kan word.

Tontela het vandeesweek weer verskyn vir ’n formele borgaansoek, waar hy aan-gedui het dat hy in hierdie stadium nie om borg aansoek doen nie.

Die saak is uitgestel tot 18 November vir verdere ondersoek en Tontela bly tans in aanhouding.

Die Bosmans se familiewoordvoerder, Rodney Prinsloo, het gesê dat hulle die harde werk waardeer wat die ondersoekspan ingesit het om ’n verdagte aan te keer. Hy het verder genoem dat hulle hoop dat die ander verdagtes binnekort aangekeer sal word en het weer eens ’n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article