’n SESTIENJARIGE seun is Saterdagoggend in hegtenis geneem vir die moord op Jade Borcherds (23) van Humansdorp.
Volgens polisiewoordvoerder, sersant Majola Nkohli, het drie mans glo na bewering Vrydag-aand om 23:30 die taverne wat in Jeggelstraat ge-leë is, binnegekom. Hy het verder genoem dat die taverne reeds toe was, en slegs die persone wat binne in die taverne slaap, binne was.
Volgens Nkohli het ’n onderonsie uitgebreek tussen die mans waarna Borcherds veelvuldige wonde aan sy bolyf opgedoen en op die toneel aan sy wonde beswyk het terwyl ’n ander slagoffer na die hospitaal gehaas was.
Volgens ’n ooggetuie, Denver Lewis, was hy en Borcherds in die taverne toe die mans daar opgedaag het en op ’n R50 aangedring het.
“Ek ken glad nie die mans persoonlik nie maar slegs van sien. Hulle het uit die staanspoor nie gelyk soos moeilikheidmakers toe hulle binne die taverne was nie,” het Lewis gesê.
Die sestienjarige is aangekeer en het Maandag vlugtig in die Humansdorpse Landdroshof verskyn op klagte van moord. Die ondersoek duur voort.

