Jeffreysrus het oor die jare ’n simbool van vrede, deernis en gesondheid geword vir al sy inwoners en hul families.
Die man aan die stuur van hierdie skip, Ds. Charlie Bond, van die NG Kerk in Jeffreysbaai, het ná jare se getroue diens op 30 Oktober afgetree.
In die vroëe negentigerjare het dit duidelik geword dat daar ’n behoefte was onder die lidmate van sy gemeente vir ’n veilige plek waar bejaardehul goue jare kan deurbring.
Dit was vir hom belangrik dat die kwesbare mense in die gemeenskap – ook dié wat deurentyd mediese sorg sou benodig – met gemoedsrus kon woon op ’n plek waar hulle met deernis en respek behandel word.
As gevolg hiervan het Bond, destydse voorsitter van die kerkraad, aansoek gedoen by die nodige owerhede om ’n aftreeoord op te rig.
Toestemming is bekom, planne is opgetrek en grond is grebreek.
Kort voor lank het Jeffreysrus sy pragtige glasdeure vir die eerste keer geopen.
Die oord het selfsorg-eenhede, woonstelle én ’n volledig-funksionerende siekeboeg met puik personeel wat 24-uur per dag aan diens is om te sorg vir die inwoners van die siekeboeg.
Ná die opening van Jeffreysrus in 1993 is Bond aangewys as die voorsitter van die bestuurraad, en dié pos het hy getrou vir die afgelope 28 jaar beklee.
Onder sy waaksame oog is veranderinge en verbeteringe aangebring, belangrike besluite geneem en inwoners verseker dat niks sal skort nie.
In 2018 is Bond verder vereer toe die nuutste toevoeging tot die oord in gebruik geneem is.
Dié moderne, eerste-klasfasiliteit, kompleet met hysbak om bejaardes vanaf die parkeergebied na hul wonings te help vervoer, is na Bond vernoem om te verseker dat sy bydrae tot die lewens en gemeenskap van die dorp se “goue oues” nie vergeet word nie.
Bond se aftrede is op 30 September tydens ’n spogfunksie by die oord gevier.
Charlie en Martie Bond is deur die bestuurraad vereer vir jare se getroue diens en hul toewyding tot die gesondheid en welstand van die inwoners.
Hulle is uiteindelik in staat om – ná al die jare – te rus en hul aftrede te geniet.




