OUWÊRELDSE basaar met keurige gebak en kraakvars produkte . . .
Die Jeffreysrus Aftree-oord hou op 27 Oktober om 08:00 basaar by die oord op die hoek van Koraal- en Dolly Vardenstraat.
Die tafels gaan kreun onder pannekoek, worsbroodjies, poeding, vars groente, vleis, ontbytrolle en gebak. En wat is ’n basaar nou sonder ’n wit olifanttafel? Tuinliefhebbers kan plantjies koop, en op die naaldwerktafel gaan kunstige items pronk.
’n Teetuin sal sitplek bied vir dié met moeë voete en droë kele.
Volgens oordbestuurder Kosie Griesel word die basaar gehou om fondse vir die oord in te samel. “Ons is ’n nie-winsgewende organisasie en fondse wat deur die basaar geïn word, word regstreeks in die Pasiëntefonds inbetaal.
Die fonds word gebruik om inwoners by te staan. Skakel Kosie Griesel by 042 293 2112.


