Frank Opperman se produksie, 'Reünie'
Moenie Frank Opperman se ‘Reünie’ mis nie. Foto: Verskaf

JEFFREYSBAAI – Jeffreysbaai Toerisme en LC Events Services, ondersteun deur die Kouga Munisipaliteit, bied van 19 tot 21 Maart 2026 die tweede “Teater by die See” aan.

Hierdie 2026-aanbieding verteenwoordig ‘n groeiende kuns- en kultuurprojek wat daarop gemik is om kreatiewe uitdrukking in die area te bevorder en terselfdertyd meer besoekers gedurende die stiller tye van die jaar na die dorp te lok.

Die inisiatief, wat deur Jeffreysbaai Toerisme geïnisieer is, fokus daarop om plaaslike besighede, restaurante en akkomodasie-instansies te ondersteun deur ‘n gehalte kunstefeesatmosfeer in die area te skep.

Anders as ‘n tradisionele kunstefees wat tot een naweek beperk is, strek die “Teater by die See” kunste-aanbieding oor die hele jaar met verskeie topgehalte produksies en aanbiedings.

Frank Opperman se produksie, 'Reünie'
Frank Opperman se produksie, ‘Reünie’, sal op 21 Maart sorg vir skaterlag-familiepret. Foto: Verskaf

Programhoogtepunte vir 2026

Die openingsvertoning op 19 Maart word gelei deur Joseph Clark, wat gehore sal bekoor met die tydlose musiek van Queen.

Die Hoërskool Nico Malan se koor vorm deel van die vertoning, terwyl Innikollig se beste kunstenaars as voorprogram sal optree.

Vrydagaand 20 Maart betree Magda Louw en haar Erhard die verhoog vir ‘n onvergeetlike musiekervaring.

Frank Opperman se produksie Reünie vind Saterdagaand 21 Maart plaas en beloof skaterlag-familiepret vir alle ouderdomme.

Vir jong teaterliefhebbers is daar ‘n spesiale Kinderteater-oggend wat onder andere die geliefde “Bester die Renoster” insluit, asook ‘n vertoning deur die wêreldbekende kulkunstenaar Reghardt Laubscher.

Reghardt Laubscher
Wêreldbekende kulkunstenaar, Reghardt Laubscher, gaan by die spesiale
Kinderteater-oggend optree. Foto: Verskaf

Opvoedkundige betrokkenheid

Skole speel ‘n belangrike rol in die projek, met verskeie opvoedkundige en kreatiewe aktiwiteite. Die ATKV Brandervolts bied ‘n “Talent by die See”-kompetisie aan waar laer- en hoërskoolleerders hul talente kan ten toon stel.

Addisionele aktiwiteite

Benewens die verhoogproduksies bied die naweek ‘n verskeidenheid interaktiewe projekte en werkswinkels in Jeffreysbaai aan, insluitend blomme-werkswinkels, beelde-toere, ‘n skryfkursus, kookklas en boekvoorlesings deur bekende skrywers soos Chanette Paul en Hendie Grobbelaar.

Kaartjie-inligting

Kaartjies vir alle vertonings is beskikbaar op Quicket. Die volledige program kan besigtig word op “Teater by die See” se Facebook-blad asook op Jeffreysbaai Toerisme se webblad, www.jeffreysbaytourism.co.za.

“Teater by die See” beloof om in 2026 ‘n ware viering van kuns en kultuur vir die gemeenskap te wees – ‘n geleentheid waar inwoners en besoekers saam kan deel in die kreatiewe hartklop van Jeffreysbaai.

Tom Bouwer, die projekleier, se raakvatter gesegde is “Ons bring die beste na die Beste” en dit weerspieël die gehalte van die 2026-skouspel.

  • Vir meer navrae kan die Jeffreysbaai Toerismekantoor gekontak word by 042 293 2629 of 064 966 9933.

LEES OOK | Teater by die See: ‘n Eerste vir Jeffreysbaai

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article