Leerlinge maak gereed om die vlag te hys by die opening van die Jeffreys Bay Comprehensive High School verlede Vrydag. Foto:CHEERA DEE ROBINSON


JEFFREYSBAAI se eerste hoërskool, die eerste tegniese skool in die onderwysdistrik, is die naweek amptelik geopen.

Mandla Makupula, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap, het by die opening nuwe planne vir die Jeffreys Bay Comprehensive High School aangekondig.

Leerlinge kry wel al geruime tyd onderrig aan die R69 miljoen-skool. Op die oomblik het die skool 1 057 leerlinge en 32 onderwysers, sê Mali Mtima, woordvoerder van die departement van onderwys.

Die skool het plek vir 1 500 leerlinge en die plan is dat dit uiteindelik sowat 3 000 leerlinge sal kan huisves.

Die LUR het aangekondig dat fase twee van die skool se uitbreiding so gou moontlik sal begin. Die tweede fase sal begin met die konstruksie van nog 22 klaskamers.

“Ons dink groot en verder vir die skool. Dit hoef nie net leerlinge van die onmiddellike omgewing te wees wat hier aansluit nie. Daarom beplan ons ’n koshuis vir leerlinge wat ver woon.”

Volgens Mtima bied die skool tans sowat 80% tegniese skoolvakke aan, met die mikpunt om teen 2020 ’n volledige tegniese skool te wees.

Bouwerk en die beplanning van die skool het ongeveer drie jaar gelede begin. Voorheen was die naaste hoërskool vir Jeffreysbaaise leerlinge op Humansdorp, sowat 25 km ver.

Mtima sê die departement wil minstens een tegniese skool in elk van die 12 onderwysdistrikte in die provinsie te hê.

Daar is ’n danksegging by die skool gehou. “Ouers het vertel hoe dankbaar hulle is dat hul kinders op hul eie dorp kan onderrig kry en sportbyeenkomste op tuisvelde gehou kan word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article