Foto ter illustrasie.

Foto: Pexels

Die COVID-19-pandemie het groepbyeenkomste definitief gekniehalter en nou, amper drie jaar later, voel dit eindelik weer amper soos normaal.

Gedurende die pandemie was almal onseker of musiek – ’n aktiwiteit wat diep asemteue, uitgelaat en versprei, tesame met sielverkwikkende klanke, oor skares mense – ooit weer ’n moontlikheid sou wees.

Gelukkig het dit net dié wat werklik passievol oor musiek is, geïnspireer om deur te druk en te verseker dat hul kuns nie agterweë bly nie.

Dit was duidelik te siene, oftewel, te hore, by Saterdag se musiekkonsert by Wild Fig Farm in Jeffreysbaai. ’n Stampvol konsertsaal het gespreek van mense wat uitgehonger is vir optredes, musiek en sommer net saamkuier. Elke gaatjie, insluitend stoele, bankies, tafels en staanplek was beset, in afwagting van die kinders se konsert.

Leerders van graad 1 tot graad 12 het hul musikale talente ten toon gestel, van sang tot klavier en kitaarspel. Sommige het selfs oorspronklike musiek opgevoer.

Skole soos Laerskool Jeffreysbaai, Victory Christian School, Stulting en Global Leadership Academy is verteenwoordig met solo-optredes.

Daar was iets vir almal, vanaf ou bekendes soos die klassieke Eidelweiss, foutloos uitgevoer deur Geo Marx, matriekleerder aan GLA, tot liedere van geliefde Disney-films soos The Little Mermaid deur Loulouve Bredell van die Laerskool Stulting.

Aangename verrassings soos Koreaanse popmusiek deur Candice Wesson van GLA was ook op die program, wat die deursnee musiekliefhebber se horisonne vir seker verbreed het. Die geleentheid is geopen en afgesluit met prettige optredes deur VCS se junior skoolkoor, onder leiding van Patsi van den Ploeg, wat haar tyd en kennis weekliks met die leerders by VCS deel, wanneer sy nie privaatlesse gee nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article