’n Graad 9-leerling van die Global Leadership Academy op Jeffreysbaai mik na die sterre!
Clarize Steyn wil dolgraag ’n aktrise wees en sy het nou reeds haar voet in die deur. Sy het onlangs deelgeneem aan DStv se SpeelToneel-kompetisie deur ’n oudisie af te lê.
Vir haar oudisie het sy het ’n werk van Shakespeare as monoloog gelewer waarmee die beoordelaars, waaronder Bradley Olivier, akteur in die sepie Binnelanders, baie beïndruk was.
Mentors
Clarize het deurgedring as een van die fina-liste. Sy word nou gementor deur Olivier, wat die rol van ’n paramedikus speel, en Jeani Swigelaar, wat die rol van die verpleegster Naomi vertolk in dieselfde sepie.
Daar is ’n moontlikheid dat sy in ’n kort film gaan speel wat die einde van die jaar gebeeldsend sal word.
Sy kry weekliks opleiding deur middel van WhatsApp en video’s. Só leer sy van karaktereienskappe van ’n rol wat moet vertolk word, en beweging. Sy kry advies oor hoe om haar spel te verbeter.
Een keer per maand kry sy opleiding in Gqeberha.
Droom
“Dit was nog altyd my droom om ’n aktrise te word. Ek het al by die skool in toneelstukke opgetree en goed gevaar in redenaars. Maar om voor die rol kameras te speel is maar stresvol,” sê die meisie met die lang bruin hare.
Jeffreysbaaier in die toneelwêreld’n Jeffreysbaaier wat alreeds naam in die to-neelspel-wêreld maak is Daniah de Villiers.
Sy het reeds landwyd ’n huishoudelike naam geword in sepies soos Binnelanders en Suidooster, en ook in films soos Mia and the White Lion en die televisie-reeks Desert Rose.
Maar haar wortels is op Jeffreysbaai, en Daniah het pas ’n vakansie-draai saam met vriende op haar gunsteling dorp kom maak.
“Ek is spyt ek mis nou die surfing! Ek het leer surf en sou dit so geniet het. My program is net te druk en kon nie langer bly nie,” vertel sy opgewonde.
Daniah het op laerskool ’n talentkompetisie in Amerika gewen en met hande vol medaljes huistoe gekom. Dit het haar ’n hupstoot in die bedryf gegee, en haar droom is bewaarheid.
Sy en haar ouers het hulle nou op Stellenbosch gevestig.
Planne
Die 19-jarige aktrise het haar eerstejaar studies aan die Universiteit van Stellenbosch in Algemene Bestuur op ys gesit weens haar talle verpligtinge, maar sal dit hervat sodra sy kan. “Ek wil graag iets agter my naam hê en sal dit voltooi.”
Hoewel sy gaande is oor die televisie- en filmwerk, is sang haar passie en is sy streeds besig om liedjies te skryf en te sing. Sy is ook besig om ’n parfuum te ontwikkel wat haar naam sal dra, en internasionaal bemark sal word.
Op stel
Op die stel van Suidooster, waar sy tien weke deel is van die storielyn, is Baba Taylor haar gunsteling en het haar hart gesteel. “Lyk my ek moet maar kinders (Baba Taylor) en diere (Mia and the White Lion) werk,” lag sy.
Haar raad aan aspirant akteurs is om nooit bang te wees om te vra nie. “Mense help baie graag en is meer bereid om te help as wat jy dink. Onthou ook dat jy nooit alles sal weet nie.”





