jeffreysbaai jukskeibane
Corine van Dyk en haar man Jan (links), saam met ‘n bedrewe SA jukskeispeler Nico Nell. Foto: Ellen Hancke

JEFFREYSBAAI – Een van die dae gaan die skeie behoorlik waai hier op Jeffreysbaai. Die oprigting en die afrondingswerk aan die eerste Jukskeibane op Jeffreysbaai vorder fluks.

Aan die stuur van sake staan Corine van Dyk en haar man Jan, en Nico Nell wat met die hulp van die Kouga Munisipaliteit, borge en die bestuur van die Jeffreysbaai Gholflub, hul droom verwesenlik.

Die egpaar woon nou byna agt jaar lank op Jeffreysbaai, nadat hulle ses jaar op Hartebeespoortdam gewoon het en 17 jaar lank in die gastehuisbedryf in Pretoria was.

Corine vertel dat hulle eintlik met ‘n ompad op Jeffreys beland het.

“Ons seun, Johan, was ‘n sjef by Fancourt in George. Ons het na ‘n nuwe ontwikkeling daar gaan kyk en ook ander kusdorpe in die Suidkaapkus besoek.”

Tydens ‘n naweekkuier op Jeffreysbaai by familie, het hulle paaie met die van ‘n ywerige eiendomsagent gekruis.

“Hy het kontak met ons behou en kort voor lank het ons en ons neef naby mekaar begin huisbou. Iets waaroor ons nie ‘n enkele dag spyt is nie.”

Die Van Dyk-egpaar vertel dat hulle net uitgetree het in die Noorde en beslis nie afgetree het nie.

Veral Corine, het ‘n baie besige sosiale lewe gehad en verskeie gemeenskapsprojekte daar gestig en gelei.

Nadat hulle op Jeffreysbaai aangeland het, het Corine gou by die politiek betrokke geraak en ook verskeie gemeenskapsprojekte gestig.

Hul gesamentlike droom oor ‘n Jukskeibaan vir hul nuwe tuisdorp het verlede jaar begin vorm aanneem.

jeffreysbaai jukskeibane
Corine van Dyk en haar man Jan (links), en ‘n bedrewe SA jukskeispeler Nico Nell, werk skouer aan skouer om van die droom ‘n realiteit te maak. Die jukskeibane word langs die ingangsroete na die plaaslike gholfklub aangelê. Foto: Ellen Hancke

Volgens Corine was hulle gelukkig om ‘n stukkie van die Jeffreysbaai Gholfklub te kon “erf.”

“Ons het gou besef dat hier knap Jukskeispelers in die Kougagebied woon. Een van ons vrywilligers Nico Nell, neem juis eersdaags aan die SA Kampioenskappe deel.

Corine het self die logo en klubwapen van die nuutgestigde Jukskeiklub ontwerp.

Sy het ook gesorg met die hulp van Christa Venter dat ‘n uithangbord met “Watch this Space” op die hoek van die nuwe terrein aangebring word.

“Die samewerking van borge is die kern van sukses van die projek. Om een baan by ‘n Jukskeibaan te bou, beloop ‘n eenmalige borgskap van sowat R8 000. So ‘n baan sal uiteindelik die naam van die borg dra en ook die nodige publisiteit kry tydens toernooie.

“Ons het reeds die grondslagfase onder die knie. Die terrein het ondermeer probleme gebied met die verwydering van enorme rotse wat nou langs die bane ‘n deel sal word van n gemeenskapstuin.”

Ekstra fondse vir hierdie projek word op ‘n innoverende wyse gein.

“Ons het reeds ‘n Valentynsdans by Die Werf gehou. ‘n Sop-en-Sjerrie fondsinsameling Jukskeidans word ook op 23 Mei by Die Werf langs die Fountains Mall gehou.”

Die Jukskeiers droom groot. Daar word ‘n spesiale afdeling vir die jeug van die kontrei beplan.

“Ook wil ons graag toernooie met buurprovinsies en dorpe reël. Daarvoor sal ons met groot dankbaarheid van die gholfklub se fasiliteite gebruik kan maak.

“Ons wil egter later ‘n klein klubhuisie oprig waar spelers darem ‘n versnapering tydens wedstryde kan geniet.”

Corine sê hulle is groot dank verskuldig aan die volgende mense wat arbeid, ondersteuning en of boumateriaal geskenk het: Clinton Grebe vir sy plaveisel, plastiek en arbeid; Buco vir 40 sakke sement; Nolans vir kompakteerders en Skip vir ekstra sand; CC Prints vir die naam en borge bord; Kouga Staal vir staalpenne in die grond; die Kouga Munisipaliteit en die bestuur van die Jeffreysbaai Gholfklub.

Daai is egter nog ‘n groot behoefte aan gruis, plaveistene, silikoonsand vir die sandkuile, grassooie asook skadunet en houtbankies vir besoekers.

“Eintlik wil ons mense nooi om ‘n hele sentrale sportklub te ondersteun. Terwyl pappas gholf speel, en mammas ‘n draai op die tennisbaan maak, sal ons kinders dan ook muurbal en jukskei kan speel of die rolbalbane aangrensend kan geniet.”

Meer as ‘n 100 mense het reeds belangstelling in die speel van Jukskei getoon.

Diegene wat niks weet van die spel nie, sal ook die nodige onderrig en afrigting kan kry.

Daar word ook spesiale toeganklikheid en voorsiening beplan vir persone in rolstoele.

Lede van die gemeenskap wat skeie het en nie beplan om weer te speel nie, kan gerus vir Corine skakel by 082 922 2260.

Sy is ook in beheer van die kaartjieverkope vir 23 Mei se Sop en Sherry dans geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article