Die familie van Martin Pretorius (29) van Jeffreysbaai, een van die twee deelnemers wat oorlede is terwyl hy aan die Ystermankompetisie in Mosselbaai deelgeneem het, sal ‘n gedenkdiens ter ere van hom hou. Die diens sal op 21 November om 14:00 by die NG Gemeente, Olienhoutstraat 9, op Jeffreysbaai gehou word.

Sy ouers is Dr. Sita Pretorius, ‘n algemene praktisyn van Jeffreysbaai, en haar man, Tinus Pretorius, ‘n senior bestuurslid by Woodlands op Humansdorp.
Kouga Express het vroeër berig dat twee atlete wat op Sondag, 16 November, aan die Ironman 70.3 Mosselbaai-triatlon deelgeneem het, tragies oorlede is tydens die swemfase van die geleentheid.
Volgens die organiseerders is een atleet op ongeveer 400m en die ander op ongeveer 1,000m uitgehaal.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sersant Christopher Spies, is die oorledenes twee mans van 29 en 58 jaar oud onderskeidelik.
Martin was ‘n geliefde inwoner van Jeffreysbaai en volgens vriende was hy topfiks. Hy het by BKB gewerk en hy en sy vrou Lihandri is in 2022 getroud en het nie kinders gehad nie.
Martin was in 2014 die hoofseun van die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp.
Sy oud-geskiedenisonderwyser, Christiaan Carstens, het aan Kouga Express gesê dat Martin ‘n uitsonderlike leerling was.
“Hy het hom vroeg reeds as ‘n moontlike hoofleier onderskei. Martin was besonder pligsgetrou, goed in sport en baie skrander.”
Sy heengaan volg ‘n week na die dood van nog ‘n gewilde oud-Nico Malanner, Mynie Steffens, wat verlede Maandagoggend tydens ‘n helikopter ongeluk gesterf het.
Mynie was in 2000 die onder-hoofdogter van die Hoërskool Nico Malan.
Haar lewensviering is Vrydag by die huis van haar jonger suster, Lanie Landsberg, in Gqeberha gehou.
Lanie is ‘n voormalige hoofdogter van Nico Malan.
Verskeie huldeblyke is gebring in die gees van Mynie se vrolike positiewe lewensingesteldheid.
‘n Helikopterverbyvlug is die middag om presies 16:00 as ‘n spesiale eerbetoon aan Mynie gebring.
Die bekende TV persoonlikheid en nabye vriendin van Mynie, Anne Hirsch, het ook ‘n vrolike saamsinggunsteling van Mynie gelei.
Dit is die derde en vierde deelnemers aan die Ystermankompetisie wat tydens die swem-afdeling gesterf het in die afgelope aantal jare.
Martin word oorleef deur sy vrou, sy ouers en twee broers, Armand en Ruben.
Vir diegene wat nie kan bywoon nie, is ‘n virtuele skakel gedeel – https://youtube.com/live/NoLTs9UYcg0?feature=share
LEES MEER: Two athletes die during Ironman triathlon in Mossel Bay





You must be logged in to post a comment.