JEFFREYSBAAI – Hy beskou homself nie as ‘n professionele fotograaf nie, maar Colin Smith van Jeffreysbaai het onlangs sommer ‘n groot toekenning vir sy fotografie losgeslaan.
Colin se gunsteling foto’s van voëls, het hom onlangs onderskei as “South African Bird Photographer of the Year.”
Colin wat pas afgetree het, is eintlik nog ‘n groentjie-fotograaf. Hy het so onlangs as Oktober verlede jaar, eers begin om ernstig foto’s te neem. Een van sy pragfoto’s, van ‘n jong kuifkopvisvanger, is by Intaka Eiland se vleilande naby Century City in Kaapstad geneem.
Op 4 Februarie is die foto aangewys as die foto van die dag deur Birdlife South Africa. Dit het hom laat deurdring na die volgende rondte, waarna hy uiteindelik met die louere weggestap het.
Wanneer ‘n mens sy groot “kamera-kanon” sien, dan verstaan ‘n mens die gesegde dat hoe beter jou toerusting is, deste beter sal jou foto’s wees. Hierdie Sony A1 merk 2 kamera met sy 400/800 lens, kan 30 foto’s binne ‘n sekonde neem.
Colin verduidelik dat ‘n mens baie geduld moet hê om daardie een besonderse beeld vas te vang.
“Dit is nie vir my vreemd om 2,000 foto’s te neem en dan slegs met een of twee tevrede te wees nie.”
Sy vrou Wendy en hul dogter Kaitlyn het ‘n fyn oog vir detail en Wendy is ewe entoesiasties oor haar man se soeke na daardie spesiale foto.
“Sy sal haar insette lewer en my ook op uitstappies vergesel. Ons pak ‘n piekniekmandjie met toebroodjies, ‘n fles koffie en ander versnaperinge. Wendy sal ‘n boek lees terwyl ek te voet die soektog aanpak.”
Een van die rare voëlspesies waarna Colin al lank op soek is, is die Narina Trogan. Dit is egter ‘n skugter voëlsoort en hy hoop om dit in die Kouga-omgewing raak te loop.

Hy geniet dit om veral in die Hankey-omgewing by Innie Kloof foto’s te gaan neem. Die Addo Olifantpark is ook ‘n gunsteling bestemming.
Hy is ook gek daaroor om foto’s van verskillende soorte loeries te neem. Interessant genoeg, is die Caprivi-streek en die Krugerwildtuin se loeries heeltemal anders as die loeries teen die kus.
Colin publiseer sy foto’s op sosiale platforms.
Sy eerste kamera was ‘n P950 Nikon voordat hy sy sak geskud het vir sy nuutste kamera, maar Colin sê dat baie van die moderne selfone ook puik foto’s kan neem.
Birdlife South Africa spog met 165 000 lede en volgens Colin is Suid-Afrikaners entoesiastiese voëlkykers.
Colin het ‘n interessante manier om register van al die voëlsoorte wat al voor sy lens beland het, te hou. Hy merk elke gevonde soort, met ‘n rooi plakker in sy uitgebreide voëlregisters.
Colin se pa Johan Smith (80) is ‘n groot voëlkyk-entoesias. Sy boekeversameling strek vanaf die 1800’s en Colin is nou die trotse eienaar van die mees omvattende versameling boeke.
Die organisasie The Birding Life bestaan uit meer as 10 000 lede.
Die finaliste in die kompetisie is deur die lede se aantal nominasies bepaal.
Daar was uiteindelik 28 finaliste en dít was al vir Colin ‘n groot pluimpie om sover te kon vorder.
“Om as die nasionale wenner aangewys te word, het my stoutste verwagtinge oortref.”
Colin maak nie gebruik van voëlskuilings of kamoefleerdrag nie.
“Ek stap maar te voet en dit is nie altyd maklik om voëls in vlug af te neem nie.”
Na ‘n besoek aan Birds of Eden het hy die ervaring so geniet, dat hy ook daarvan begin hou het om gevlerktes buite hul natuurlike habitat te skiet.
- Diegene wat graag na Colin se buitengewone foto’s wil gaan kyk, kan dit op sy Instagram-profiel doen: always.wild.photography






You must be logged in to post a comment.