Hier is van die staatmaker spanlede wat die melkhoutboom roete moontlik gemaak het. Van links is Zuanda Badenhorst, Pieter Kok, Soria Swart en Sarina Engelbrecht.

Foto: Verskaf

Jeffreysbaai was vroeër bekend vir sy talle melkhoutbome, maar dit het mettertyd geweldig afgeneem weens mense wat uit onkunde die bome afgekap het.

’n Uithaler span Jeffreysbaaiers het saamgespan om mense meer bewus te maak van dié kosbare bome wat ’n bewaarde spesie is.

Dit was Soria Swart wat met die blink idee van ’n Melkhout-roete vorendag gekom het. Met verskeie vriende, die privaarsektor, individue en die munisipalitiet is dié roete bekendgestel.

Dit het gepaardgegaan met ’n boomplanting, en het saamgeval met Boomplantdag en Toeristemaand.

“Daar is talle melkhoutbome op munisipale grond en deur die dorp. Ons het met die hulp van die munisipaliteit se grafiese ontwerper, Sarina Engelbrecht, ’n kaart saamgestel vir die roete. Daar is ook uitsonderlike bordjies by elke boom met ’n QR-kode daarop wat met ’n selfoon skandeer kan word, en so word veel meer inligting ontsluit,” borrel Swart.

Roete

Die roete is sowat 17 kilometer lank en sluit 12 bome in. Dit kan gestap word, of mens kan met ’n fiets of motor ry. Die kaart vir die roete kan by die Toerisme kantoor in Da Gamaweg gekry word. Die skakel is ook op die Kouga Munisipaliteit se webblad beskikbaar by www.kouga.gov.za.

“Dit is veel meer waardevol om met ’n aktiwiteit soos stap of ry die roete te volg en te ervaar, as om net daarvan te lees of hoor. Wanneer mense die roete aflê, ontdek hulle terselfdertyd ander juwele van die dorp, soos die labirint wat ons verlede jaar ingewy het,” sê Swart. Van die plekke wat besoek word op die roete is by Elza van Lingen Biblioteek, M.O.T.H. Park, Noorsekloof Natuur Reservaat, Da Gamaweg (oorkant SuperSpar), Flame Crescent, Supertubes, Kabeljauws Straat, Kabeljauws Lagoon, Poplar Park en die labirint in Noorsekloofweg.

Permit

“Ek glo ook dis beter om mense bewus te maak van die waarde van die bome en die uitroeiing daarvan te voorkom, eerder as om boetes op te lê. ’n Permit is nodig om die beskermde bome te snoei of uit te haal,” verduidelik Swart, wat ook ’n komiteeraadslid is met Toerisme as haar portefeulje.

Waarde van melkhoutbome

Die landskapsargitek, Pieter Kok, wat deel was van die span, sê melkhoutbome is besonder gehard met ’n sterk wortelstelsel. “Die melkoutbome is bestand teen die seewind en die wortelstelsel stabiliseer eintlik die duine. Die blare is sterk met ’n blink bolaag en die stamme is knoetserig. “Die bome aard ook goed op rotsagtige gebiede, en word honderde jare oud,” sê Kok.

“Maar die bekendste eienskap is die melkerigheid in die blaar wat te sien is as die blaartjies geknak word. Daar is ook donker bessies wat maklik afval. Dit kan bietjie lastig wees, maar ons hoop mense verduur dit vir die rukkie dat dit gebeur.”

Melkhoutbome as monumente

Kok vertel dat daar vier melkhoutbome in die land is wat as monument verklaar is. Die bekendste is die Posboom in Mosselbaai wat al van 1498 daar staan. Daar is ook een in Woodstock in Kaapstad wat as die Treaty boom bekend staan, en ook die Fingo boom in die Oos-Kaap wat al 600 jaar oud is. In Bredasdorp is daar nog ’n monumentboom by Renosterfontein.

Die Kouga Munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Hattingh Bornman, help hier leerders om ’n melkhoutboom te plant.

Spanwerk

Swart sê die projek is aangepak vir die nageslag – om die melkhoutbome te bewaar en mense daaroor op te voed.

“Dit was die spanwerk van mense soos Pieter Kok, Zuanda Badenhorst, en Christa Venter, Sarina Engelbrecht en Monique Basson van die Kouga Munisipaliteit wat my gehelp het om die ikoniese roete tot stand te bring. En sonder die fondse van die privaatsektor sou ons dit nie kon doen nie.”

Sover bekend is dit die enigste melkhout-roete in die land. Daar word beoog om vir mense wat die roete voltooi het, ’n plakker te gee wat op ’n voertuig aangebring kan word.

  • Indien iemand ’n melkhoutboom wil snoei, verwyder of ongemagtigde afkap van die bome aanmeld, kan Pieter Kok geskakel word by 073 481 8828.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article