JEANNE Serfontein se belangstelling om kinders te help om suksesvol deel te neem aan alle-daagse aktiwiteite en sodoende hul onafhanklikheid en selfvertroue te verbeter, kom reeds uit haar skooldae in Bethlehem.
“Hier het ek saam met my ma in die biblioteek gesit en navorsing doen oor die rigting waarin ek wou gaan studeer. My liefde en belangstelling in die doen en late van kinders, het my op Arbeidsretapie laat besluit, wat my absolute passie is” vertel sy.
As ’n boorling van Bethlehem, het sy by die Universiteit van die Vrystaat studeer. Jeanne is ge-troud en het in Desember 2019 vanaf Krugersdorp saam met haar gesin na Jeffreysbaai verhuis.
“Ek het daar ’n baie besige praktyk gehad, en die skuif na Jeffreysbaai was vir my goed. Hier was alles anders, met ’n stadiger pas, vriendelike mense en beeldskone natuur.”
Die gesin is ywerige voëlkykers en laat nooit die kans verbygaan om te gaan kamp nie.
“Ek wou aanvanklik ’n jaar afneem om die rustigheid en na- tuur te geniet maar na drie maande was die opgewonden-heid weer daar – ek het my eerste kliënt hier gesien en van vooraf besef dat arbeidsterapie my roeping is.”
Volgens Jeanne verskil elke kind, sowel as hul behoeftes, en in haar beroep spreek sy talle verskillende aspekte aan. Jeanne sê vir haar is die grootste beloning om ’n kind tot volle potensiaal te help en die ouers te bemagtig om hul kinders te ondersteun in hul onwikkeling.
Een van die baie interessante uitdagings waarmee sy te doen kry, is sensoriese prosesserings-disfunksie (SPD).
Sy verduidelik dit as volg:
“SPD word ook sensoriese integrasie disfunksie genoem en word in die meeste gevalle by jong kinders gediagnoseer. Volwassenes kan ook sensoriese integrasie probleme ondervind.
“Kinders word daagliks blootgestel aan ’n verskeidenheid sensoriese informasie wat uit die omgewing deur hul sintuie (tas, gehoor, sig, reuk en smaak) opgeneem word. Die twee min-der bekende sintuie naamlik die vestibulêre (beweging) en die proprioseptiewe (liggaamsposisie) sintuie verskaf waardevolle inligting in verband met die liggaam se posisie in die ruimte asook beweging. Sensoriese inligting word opgeneem deur die sewe sintuie en dan na die brein gestuur om geprossesseer te word.
“Die meeste kinders beskik oor die vermoë om hierdie inligting sinvol te verwerk en dan toepaslik daarop te reageer. Sommige kinders vind dit moeilik om die sensoriese inligting suksesvol te prosesseer. Wanneer die sensoriese integrasie proses nie effektief werk nie, kan die kind moontlik sukkel om alledaagse take suksesvol uit te voer.”
Ouers worstel soms met vrae soos: Hoekom is my kind so kieskeurig oor wat hy eet? Hoekom weier hy om sekere klere aan te trek? Hoekom is dit altyd ’n bakleiery wanneer daar inkopies gedoen word? Middae na skool is dit trane en wil my kind net eenkant wees, weg van almal.
Gewoonlik is die meeste kinders opgewonde oor die nuus dat hulle uitgenooi is na ’n maatjie se verjaarsdagpartytjie, maar vir kinders wat sukkel om sensoriese inligting effektief te verwerk, is ’n partytjie ’n stresvolle situasie.
Die kind se liggaam word gebombardeer met sensoriese inligting wat die brein moet verwerk en in sommige gevalle is dié inligting net te oorweldigend.
Daar is net te veel geraas, te veel mense, met te veel beweging. Indien jou kind sensories sensitief is, gaan hy baie vinnig oorgestimuleer word en gewoonlik word dit gevolg deur ’n emosionele of gedragsreaksies. Party sal huil en eerder wil huis toe gaan en ander sal begin ‘terug baklei’ deur die maatjies weg te stamp.
Jeanne deel graag met lesers te-kens van moontlike sensoriese integrasie probleme:
. Oorsensitiwiteit vir aanraking, beweging, geluide en skerp lig
. Sensitief vir sekere kosteksture en kosreuke
. Verkies intense sensoriese ervarings
. Beweeg konstant, sukkel om stil te sit of is stadig om aan die gang te kom
. Koördinasie probleme – kom lomp voor en swak koördinasie tussen arms en bene
. Sukkel om nuwe take aan te leer
. Sukkel om akademies te presteer, ten spyte van normale tot bo-normale intelligensie
. Gedragsprobleme – aandag-afleibaar, impulsief, aggressief en lae selfbeeld
. Sukkel om aan die slaap te raak of slaap baie lig en onrustig
. Emosionele uitbarstings weens oorstimulasie
“As kundige op dié gebied, be-veel ek aan dat, indien ’n ouer vermoed dat sy kind sensoriese integrasie probleme ervaar, u ’n arbeidsterapeut met ’n addisionele kwalifikasie in sensoriese integrasie moet kontak vir ’n volledige assessering met die oog op toepaslike behandeling”.
Ouers wat meer oor die onderwerp wil weet kan Jeanne kontak via e-pos na jeanneserfontein@yahoo.com.




