Die dames van die groep “Jbay Rocks” het alles behalwe harte van klippe, want hier verf hulle klippe vir liefdadigheid.
Maritha Veldsman, mede-organiseerder en lid van die span, verf al ongeveer drie jaar spoelklippe nadat haar vriendin haar aan dié kuns bekendgestel het.
Die groep is gestig deur Christel de Lange, wat die behoefte waargeneem het om ouer en veral alleen mense te betrek gedurende die COVID-19 pandemie.
Die groep vroue op Jeffreysbaai en van Gqeberha kom deur die jaar bymekaar om spoelklippe te verf. Daar word volgens ’n voorafbespreekte tema geverf en daarna word die kunsklippe aan liefdadigheidsorganisasies gegee.
“Ons doen dit gratis om ’n boodskap van liefde en hoop in ons dorp van drome uit te dra,” sê Maritha.
Die groep spog met ’n lang lys van mense en plekke wat bederf word met hulle klip kuns. Hulle het verlede jaar ongeveer 95 kunsklippe uitgedeel vir Humansdorp Hospitaal se personeel.
“Ons het ook vir sowat 10 skole en kleuterskole se personeel kunsklippe gegee. Dit was altesaam sowat 150 klippe. Jeffreysrus aftree-oord was ook onder die ontvangers, tot groot vreugde en verbasing van die bejaardes. Die dierebeskermingsorganisasie in Humansdorp se werkers het gekry asook veeartse in die dorp om vir mense te gee wat ’n geliefde troeteldier moes laat uitsit. Ons plaas kunsklippe by dokters se spreekkamers en kankerorganisasies in Gqeberha,” vertel Maritha.
Hulle sit ook klippe by die strande waar mense dit vind en gereeld terugvoering op sosiale media gee as hulle ’n kunsklip gekry het. Kunsklippe word ook in winkelsentrums soos Equinox en Fountains Mall gelos vir diegene wat daar vertoef.
- Vir meer inligting oor die groep, besoek hulle sosiale media blad by “Jbay Rocks”.




