JACK’S Bagels, het oorspronklik as ’n enkel winkel in Gqeberha (Port Elizabeth) in 2018 begin en Theunis het sy liefde daarvoor aan Chantelle te danke.
Sy het hom die eerste keer daarheen geneem om die lekker nuwe plek te probeer toe hulle daar gewoon het.
Vir Theunis was dit liefde met die eerste happie en hy het dadelik vir Chantelle gesê dat hy eerste in die ry sal staan indien hulle ooit besluit om uit te brei en takke in ander dorpe oop te maak.
Twee jaar later is sy droom eindelik bewaarheid toe die paartjie Desember 2020 hul eie winkel oopmaak in die hartjie van Jeffreysbaai. Alhoewel dit ’n moeilike besigheidsjaar vir baie mense was, het hierdie entrepreneurs ’n kans gewaag en dit het vrugte afgewerp.
Die bagel restaurant het net so vinnig bekendheid verwerf in Jeffreysbaai soos elders in die land, waar daar altesaam nege Jack’s Bagels restaurante is.
Theunis skryf hulle sukses toe aan heerlike vars en unieke produkte. “Ons verkoop New York-styl bagels, wat verskil van die tradisionele Joodse bagels omdat dit heelwat ligter in teks -tuur is. Dit is makliker om te eet vir enige ete en meer toeganklik vir iemand wat nie daaraan gewoond is om bagels te eet nie.”
Hul bagels word met bio-vriendelike klipgemaalde meel (stone ground flour) gemaak en is vry van suiker en preserveermiddels. Dit is vir hulle belangrik om ’n suiwer produk te bied wat nie oormatig geprossesseer is nie.
Volgens die paartjie is bagels baie veelsydig en kan soet of sout gemaak word.
Daar is hordes verskillende soorte op die spyskaart, wat strek van die eenvoudige plain bagel tot opwindende kombinasies soos fillet steak, sampioene en mosterdsous.
Bagels kan natuurlik ook soet wees en Chantelle is dol oor die frosted cream cheese bagel – dit is haar gunsteling item op die spyskaart.
“Ons klandisie sluit almal in, van jonk tot oud. Vroeg soggens kom eet mense ontbyt en na skool kom ma’s met kinders inloer. Jong volwassenes en tieners geniet die moderne internasionale styl van die dekor en spyskaart. Ons verskillende koffiedrankies is baie gewild, veral ons yskoffies.”
Jack’s Bagels het op 1 Mei hul nuwe perseel in Oosterlandstraat geopen, op dieselfde plek waar die ikoniese Kolwyntjie tuisnywerheid 24 suksesvolle jare lank besigheid gedoen het.
Theunis en Chantelle sê hulle kan net hoop om in hul voorgangers se voetspore te volg.




