DIE boerebasaar op Patensie hou altyd verrassings in, maar die afgelope naweek was daar een wat die koek gevat het.
Terwyl basaargangers geklets en gekoop het, het die hoof-ouderling, Jansie Both, almal tot orde geroep om aandag te gee aan ’n man wat iets op die hart het. Dit was toe Morné Human (39) wat sy geliefde Melissa de Beer (35) vra om met hom te trou!
“Ek was heelweek kalm, maar toe ek daar by die basaar is en besig is om te help met die braaiery, het my senuwees begin knaag!,” vertel Morné.
“Toe ek vroeër ouers gevra het, het hulle dadelik ingestem. Ek het ook eers gedurende die week vir Jansie toestemming gevra om die ding te doen by die basaar. Sy het my gehelp om te reël dat ’n spesiale liedjie, All The Love I Ever Need van James Blunt te laat speel wanneer ek Melissa vra om met my te trou.”
Hoof-ouderling Jansie sê sy het Melissa vorentoe geroep. “Hy het op een knie afgesak, daar voor die podium waar die veiling nog sou plaasvind, en sy liefde verklaar en haar gevra om vir altyd syne te wees. Toe het hy die verloofring uit sy sak gehaal en aan haar vinger gesteek.”
Van die basaargangers wat van heinde en verre gekom het, was verbaas, maar daar was ’n paar vriende en familie wat wel geweet het wat kom.
Melissa sê sy het al snuf in die neus gekry gedurende die week, maar is deur almal om haar op ’n dwaalspoor gelei. “Maar toe my ma my neem om my naels te laat mooi maak die vorige dag, het ek tog weer gewonder. Ons is al twee jaar saam en nou net meer as ’n jaar op Patensie. Morné werk as plaasvoorman by Rooinekboerdery en ek werk daar in die kantoor.”
Sy sê haar hart het vermurwe toe hy haar die groot vraag vra. “Siestog, hy het so gebewe, en wou net huil, maar ek het myself beteuel en eers later lekker gehuil van vreugde.”
Maar hoekom het Morné die boerebasaar gekies van alle plekke?
“Meeste van ons vriende en familie was daar, en dit het te doen met die kerk. Ek het gedink dis die regte plek…daar voor álmal,” sê die byna-bruidegom wat in Patensie se omgewing grootgeword het.
Melissa het ’n nege-jarige seuntjie, Niko, uit ’n vorige huwelik. Nou wonder ons almal waar en wanneer gaan die troue wees. “Ons sal later die trouplanne maak. Vir nou is ons baie gelukkig so!” sê die twee verliefdes.





