VERSKEIE organisasies, besighede en individue het die afgelope paar weke kragte saamgesnoer om soveel stemme moontlik vir Jeffreysbaai as Kwêla se Dorp van die Jaar te werf.
Kouga Besigheidsforum voorsitter Joe Ferreira, het ’n komitee bestaande uit lede van Kouga Munisipaliteit, Dorp van Drome, Fountains Mall en Jeffreysbaai Toerisme saamgestel.
Dié bekwame span het verskeie netwerkfunksies gehou om fondse in te samel. Die fondse is gebruik om lugtyd te koop, wat aan verskeie skole en individue beskikbaar ge-stel is om te stem, asook vir bemarking.
“Die komitee bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning en entoesiasme,” sê Ferreira.
“Die samewerking onder die Kouga-gemeenskap het ’n gees van trots openbaar wat selde voorheen ondervind is. Ons wil veral alle borge en rolspelers bedank. Baie dankie aan ’n ieder en elk se bydrae, synde deur fondse, bemarking, bewusmaking en, na- tuurlik, die belangrikste, deur te stem.”
Die finale wenners word op Sondagaand, 17 Junie op Kwêla (kanaal 144) aangekondig.



