DIT is net “oe-aa-geluide” wat oorverdowend opklink wanneer Jeffreysbaai se hawelosebrigade wasgoed was – tot groot frustrasie van inwoners.

Sommer net daar by die publieke ablusie-geriewe op die hoek van Da Gamaweg en Te-komastraat. Daar waar die standbeeld van ’n branderplankryer dag en nag oor strandgangers en swemmers waak.

Dié geriewe word byna daagliks in ’n wassery omskep: broeke en hemde, onderklere en onpaar sokkies.

Volgens ontstoke inwoners is die probleem meer as net ongerief. Dit is ’n verleentheid.

“Uitstappies na die strand is ’n nagmerrie,” sê een inwoner wat anoniem wil bly. “Kom ‘wasdag’, kan ons glad nie die ablusie-geriewe gebruik nie. Verder gaan honderde liters water verlore.”

Aldus dié inwoner het sy al telkemale met die haweloses gepraat, maar haar pleidooie val op dowe ore. Hulle is binne ’n dag of twee terug met hul bondels wasgoed.

Kouga Raadslid vir Gemeenskapsdienste, Daniel Benson, sê: “Publieke ablusie-geriewe is daar vir strandgangers en winkel-klante.

“Die was van klere by díé geriewe word nie toegelaat nie, dit is ’n openbare ergernis en ’n oortreding van munisipale bywette.”

Volgens Benson het munisipale wetstoepassers onlangs oortreders in die verband aangespreek.

“As inwoners mense sien wat hulle klere by die publieke geriewe was, vra ons dat hulle dit by 042 200 2200 of via die Link dienslewe-rings-app rapporteer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article