INWONERS van Flamingo- rylaan in Astonbaai is moedeloos nadat swerms insekte – wat aanvanklik soos muskiete gelyk het – by hulle intrek geneem het.
’n Radelose Christa Blom het Kouga Express gekontak om te berig oor die plaag nadat hulle glo al die afgelope twee jaar van bakboord na stuurboord gestuur word, van die een plaaslike owerheid na die ander – sonder enige sukses.
Die Blom-gesin woon al 21 jaar lank in dieselfde huis nadat hulle hier kom aftree het. Hulle meen dat die inseklewe nog altyd bedrywig was vanweë die ligging van hul huis – naby die strandmeer, maar ongeveer twee jaar terug het daar ’n ander euwel hul klein koppies begin uitsteek.
Met die aankoms by die Blom-woning is dit amper soos iets uit ’n wetenskapfiksie-rolprent – swerms op swerms vlieënde goggas wat soos muskiete lyk, maar nie byt nie.
Volgens Christa bestee hulle maandeliks honderde rande aan insekdoders en -verweerders en ten spyte daarvan kan hulle glad nie hulle buite-braai of wasgoeddrade gebruik nie.
“Ons kan nie ’n venster oopmaak nie. Ons het permanent ’n minimum van drie elektroniese muskietafweerders wat aan is en slaap met muskietspirale wat brand. Dit kos ’n klomp geld en is glad nie goed vir ons gesondheid nie. Saans as ons dit net durf waag om ’n venster oop te maak as ons slaap gaan die goggas in ons neusgate en ore in. Dis ondraaglik.
“Die hele straat kla en al ons bure is bejaardes. Dit is ’n skande dat mense op hulle oudag so moet leef.”
Volgens haar het die departement van omgewingsake al twee keer mense gestuur om te kom kyk en hulle was uiters geskok oor die plaag.
’n Buurman, Mike Corrigan, het beaam dat hy net so erg onder die plaag deurloop.
Die Kouga-munisipaliteit sê hulle is be-wus van die probleem.
Kouga Gemeenskapsdienste-portefeulje-raadslid, Daniel Benson, het gesê, “Kouga-munisipaliteit het alle moontlikhede ondersoek om die probleem veilig en effektief aan te spreek. Ons het die spesifieke eiendom besoek, vergesel deur die Departement van Omgewingsake en spesialiste in plaagbeheer.
“Ons moet beide die inwoners en omgewing beskerm, soveel as wat ons die klaer wil help.
“Ons kan geen plaagdoder spuit nie, aangesien dit die sensitiewe ekostelsel negatief sal beïnvloed. Dit sal nie net die muggies doodmaak nie, maar ook onder meer die voëls en visse in die omgewing.
“Dit kan ook ’n negatiewe uitwerking op inwoners hê, aangesien dit die water en lug sal besoedel.”



