Foto ter illustrasie.

Foto: iStock

As jy eers die opwinding beleef het van jou naam by ’n storie op die voorblad van ’n koerant, sal jy vir ewig ink en woorde in jou are hê. En as die storie nog bó die vou was, was dit eerste prys.

Na ses jaar in die onderwys het my pad na die koerantwese geloop. Op Kariega het ek gereeld bydraes gegee vir die plaaslike verslaggewer, Celia Theart, by Die Oosterlig se buitekantoor, wat ook die setel was vir die UD Nuus.

Wanneer ek bewus was van iets wat ek gedink het almal van moet weet, het ek dit vir haar vertel. Mettertyd het sy my aangemoedig om vir haar pos aansoek te doen toe hulle verhuis het.

Dit was die begin van ’n vervullende loopbaan van 31 jaar in die joernalistiek, waarvan ses by koerante was. Ek sal haar ewig dankbaar wees.

Ek het my hart en siel uitgeleef in die bedryf. Hofsake was van meet af aan my gunsteling. Ek wou uitrafel wat het in mense se koppe aangegaan toe hulle misdaad gepleeg het. Nou nie dat ek veel antwoorde gevind het nie…

As groentjie het ek nie eers geweet waar om te sit toe ek die eerste keer in die landdroshof op Uitenhage kom vir ’n bedrogsaak teen eerwaarde Allan Hendrickse nie.

My selfvertroue het ’n knou gekry toe ek die eerste foto’s neem van ’n siek luiperd by die veearts, en die langsdienende stadstesourier in die land – sonder ’n film in die kamera. Ek het lesse geleer!

Ek blaai met nostalgie deur my stapel plakboeke uit die laat tagtigs, met elke koerantstorie wat ek al geskryf het. Dis as’t ware geskiedenis wat ek beleef. Om te dink daar sal eendag nie meer gedrukte koerante wees nie, is hartverskeurend.

Daar is stories van reddingspogings, moorde, politieke opstande, brande, seedramas, gesinsmoord, fabriekstakings en talle hofsake. Van die stories wat my bybly is die een van ’n plaaswerker, Apools, wat ’n koedoe met ’n klip geklits het – morsdood. Dan was daar die storie van ’n bejaarde vrou wat oorlede is in die hospitaal, en ure later, nadat die familie al laat weet is, het sy lewendig geraak. Sy het die verpleegsters gevra om haar toe te maak want sy kry koud.

Dan was daar tragedies soos die matriekleerling van Joubertina wat sy ouers vermoor het, ’n jongman van Despatch wat doodgebrand het toe brandstof vlamgevat het, ’n baba wat in die doeke-emmer verdrink het, ’n jakkals wat ’n twaalfjarige seuntjie gebyt het en ’n man wat sy swanger meisie in ’n boom opgehang het.

Die ure se gesit in raadsvergaderings se berigte vertel van die politieke stryd tussen die Nasionale Party en die Konserwatiewe Party. Later die oorgangsrade en veranderde politieke stelsel. Foto’s vertel van AWB leier Eugene Terre’Blanche se spoegspat toespraak, optogte van ANC/SAKP/Cosatu alliansie en die polisie wat dit na onderhandelings ordelik laat voortgaan.

Daar’s fotos van klippe wat trek in die township tydens opmarse, Casspirs met soldate en gewere, wapperende vlae van die Alliansie.

Ek raak vasgevang in al die gebeure soos ek deur die plakboeke blaai, en onthou die ervaring en gevoelens tydens die gebeure.

Dit is vir my magies hoe die warboel van nuusgebeure, mooi georden, in wit en swart, op papier ’n rusplek kry.

Dis nou sowaar byna die einde van ’n kosbare era. Gedrukte koerante maak nou meestal plek vir elektroniese weergawes. Maar dis nie dieselfde nie. Dis hartseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article