Noleen Fitchet is ’n gepubliseerde skrywer.

Foto: Marcia Boyens

Noleen Fitchet (61) woon al vir die laaste 38 jaar in Humansdorp en is vanaf April 2023 ’n gepubliseerde skrywer.

Sy is gebore en geskool in Somerset-Oos en het in 2021 afgetree na 41 jaar in verpleging, waar sy uiteindelik tyd gekry het om aandag te gee aan haar skryfwerk. Fitchet skryf al vandat sy op skool was, maar sy sê dat sy nooit werklik die moed gehad om uitgewers te nader nie.

“Baie spesiale mense in my lewe het my gemotiveer en selfvertroue gegee om die stap te neem. Malherbe Uitgewers het my die geleentheid gegee deur albei my verhale te aanvaar vir publikasie,” het Fitchet gesê.

Haar eerste boek, Hoop vir Kersfees, is gepubliseer in April 2023 en die tweede, Net een soos Ester, nou in Junie 2023. Albei haar verhale is in 2022 geskryf, maar “Ester” is eers in 2023 afgerond. Sy is baie opgewonde dat haar verhale beskikbaar is vir lees en dat almal saam kan deel in die opwinding van die publikasies.

Sy verkry inspirasie van haar grootword jare op die plaas en see vakansies langsaan die kus. Sy is baie opgewonde oor haar ander kortverhale asook onverwerkte stories. Fitchet sê dat sy soms vele stories op een slag skryf, maar bestee tans haar aandag by ’n spesifieke verhaal.

Met al die opwinding oor hierdie skrywer wat die Kouga in sy midde het, gaan Fitchet by Le Chameleon in Humansdorp (haar gunsteling plek vir skryf en kuier) ’n boekbekendstelling hou in Julie 2023.

Behalwe dat die skrywer haar eie verkope doen, is albei haar boeke beskikbaar by Bargain Books asook aanlyn by Malherbe Uitgewers.

  • Vir meer inligting oor hoe om van Fitchet se werke in die hande te kry, kontak haar gerus op 071 162 1715.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article