Die Humansdorpse Landdroshowe is besig om ’n nuwe baadjie te kry na die Departement van Justisie met opgradering by hierdie geboue begin het.
Die hofbestuurder, Marius Kriek, het gesê, “die hele fasiliteit sal opgegradeer word, maar sal in ’n gefaseerde benadering gedoen word om die dringende veiligheidsmaatreëls en tekort aan ablusies by die fasiliteit aan te spreek met die eerste fase reeds in aanbou.”
Hy het verder verduidelik dat die eerste fase sal fokus op sekuriteitsmaatreëls soos die installering van ’n veiligheidshein-ing, geringe herstelwerk aan bestaande ablusies en voorsiening van ’n tydelike ablusieparkhuis, en bykomende kantoor- en stoorpakhuise.
Die tweede fase sal die sloping van die bestaande enkelverdieping landdroskantoor en konstruksie van ’n nuwe drieverdiepingstruktuur insluit.
Kriek het voorts aangedui dat die verwagte voltooiingsdatum van die eerste fase in Desember 2021 sal wees.
“Fase 2 het konstruksie- en ingenieurs-tekeninge wat gefinaliseer moet word om die hoeveelhedelys te voltooi. Sketsplangoedkeuring is geskeduleer vir einde November 2021. Die verwagte finansiële tenderdatum is teen die einde van hierdie finansiële jaar geskeduleer. Fase 2 sal afhang van die suksesvolle aanstelling van ’n kontrakteur met ’n konstruksietydperk van 24 maande met ’n voltooiing van die werk teen Augustus 2024.”
Die huidige grootte van die gebou is 850m² en die nuwe voetspoor sal ongeveer 4500m² wees.
“Die nuwe fasiliteit sal toegerus wees met die nuutste veiligheidsmaatreëls, insluitend x-straalmasjiene, metaalverklikkers, toesigtoerusting, toegangsbeheerstelsels, sekuriteitsheinings en geïntegreerde brandopsporing, asook voorkoming- en alarmstelsels. Bykomende sekuriteitswagte sal volgens goedgekeurde departementele norme en standaarde toegeken word,” aldus Kriek.
Die publiek word gevra om die ongerief te verdra wat met die opgradering gepaard gaan.




