Beamptes en kantoorpersoneel van die Humansdorp SAPS se FCS afdeling is op Valentynsdag bederf met heerlike koffie, warm sjokolade, PS sjokolades en kolwyntjies om hul dag mee te begin.
Dié onverwagse lekkerte vir die FCS (eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe) is gereël deur die Victory for All projek, wat in die Kouga-area werk met kwesbare kinders.
Volgens Glenis Jacobs, maatskaplike werkster wat betrokke is by die projek, het hulle gevoel dat dit belangrik is om hierdie tak te vereer vir die goeie werk wat hulle doen, omdat hulle slegs werk met sake van gesinsgeweld, seksuele misdade en sake waar kinders betrokke is.
Dus werk Victory 4 All soms baie nou met die eenheid saam.
Buiten die heerlike eet- en drinkgoed, sê Jacobs, hulle het gevoel dat die beamptes fisies omring moet word en dat hulle graag vir hulle wou bid. Die kinders, twee pleegmoeders, Jacobs en Machrista Albertyn, projekkoordineerder het ’n kring om die beamptes gemaak en die kinders het vir hulle gebid. Dit is simbolies van die polisielede wat die kinders van die Kouga “omring” en hulle daagliks beskerm deur die werk wat hulle doen.
“Hulle is net altyd daar as ’n mens hulle no-dig het. Dit is ’n uiters moeilike werk wat hierdie tak van die polisie verrig en hulle kom soms baie erge gevalle teë – niemand hou daarvan om kinders te sien ly nie. Daarom het ons gevoel dat ons vir hulle moet dankie sê dat hulle bereid is om dit te doen. Sonder hulle harde werk en toewyding sou baie kwesbare lede van ons gemeenskap geen hulp gehad het nie. Hulle doen uitstekende werk.”
“Dit was ook vir ons belangrik om vir die kinders ’n voorbeeld te stel van dankbaarheid, asook vir hulle te wys dat die polisie daar is om hulle te beskerm. Ons het die oggend baie geniet en dit was vir ons ongelooflik om die mense te sien wat dag in en dag uit met hierdie dinge werk. Hulle is die mense wat ons vrouens en kinders oppas. Hulle is die mense vir wie ons moet teruggee en bedank.”
Kaptein Nico Stander, bevelvoerder van die eenheid, het sy waardering uitgespreek dat die werkers en kinders van Victory 4 All hulle kom vereer het met hierdie geleentheid.
“Dit is lekker om te weet mense sien raak wat ons doen. Ons doen elke dag ons beste en dit was heerlik om bietjie bederf te word so aan die begin van die week.”


